Hospitaal stuur pa van twee huis toe met gebreekte rug en nek
"Vincent was nog altyd 'n baie hardwerkende mens en 'n liefdevolle man en pa wat ander se belange altyd bo sy eie stel. Hy sukkel regtig op die oomblik omdat hy sy gesin nie kan onderhou soos hy graag wil nie"
VEREENIGING. – Twee maande gelede was Vincent Jansen (39) nog ‘n aktiewe broodwinner vir sy vrou en twee seuns. Dit was totdat ‘n motorongeluk op 21 Maart 2023 sy drome vernietig het en hy nou met ‘n gebreekte rug en nek aan ‘n bed gekluister is.
Vincent was die betrokke dag van sy huis in Vereeniging na Vanderbijlpark onderweg toe ‘n band van sy bakkie gebars en die voertuig gerol het. In die proses is sy nek, rug, ribbebene, albei sleutelbene, blad, regterarm en hand gebreek. Van sy gebreekte ribbebene het sy aorta en longe rakelings gemis.
Vincent het slegs ‘n paar maande tevore in sy nuwe pos as streeksbestuurder van ‘n skoonmaak-onderneming begin werk en het nog nie ‘n mediese fonds gehad nie, met gevolg dat hy in ‘n plaaslike staatshospitaal opgeneem is. Hoewel hy dringende operasies benodig, is waglyste baie lank en staatshospitale het boonop nie die nodige fasiliteite om mense met sy tipe beserings te behandel nie.
Hy is deur die hospitaal huis toe gestuur, waar hy nou plat op sy rug moet lê. Te midde van sy pyn en kommer oor die toekoms het hy onlangs verneem dat sy siekverlof uitgeput is en hy nie langer ‘n salaris van sy werkgewer gaan ontvang nie. Dit is nie net ‘n groot terugslag vir Vincent nie maar ook vir sy vrou Sandra en twee seuns van 11 en 3 jaar, wat van sy inkomste afhanklik was.
Vriende en familie het nou ‘n projek geloods om geld vir sy behandeling by ‘n private mediese instansie in te samel. “Die gesin trek geldelik baie swaar en ons pleit by die gemeenskap vir enige moontlike hulp,” het ‘n familielid vroeër die week aan Vaalweekblad gesê.
Die prosedure wat Vincent die dringendste benodig, sal sowat R160 000 by ‘n private hospitaal kos. Dit sluit nog nie x-strale, bloedtoetse, mediese hulpmiddels wat hy nodig mag kry, fisio en nasorg in nie, maar sy familie en vriende hoop dat hulle voorlopig genoeg sal kan insamel vir die dringendste operasie om verdere komplikasies te voorkom.
“Vincent was nog altyd ‘n baie hardwerkende mens en ‘n liefdevolle man en pa wat ander se belange altyd bo sy eie stel. Hy sukkel regtig op die oomblik omdat hy bedlêend is en hy sy gesin nie kan onderhou soos hy graag wil nie,” sê ‘n vriendin.
Enigiemand wat ‘n geldelike bydrae wil maak, kan ‘n inbetaling maak aan S. Jansen, Capitec, Spaarrekening: 1844836825.


