Local newsNews

Geliefde dokter tydens herdenkingsdiens gegroet

Dr. André du Toit het verlede week onverwags gedurende 'n fietswedsren in Clarens gesterf

 

VANDERBIJLPARK. – Familie, vriende en kollegas van wyle dr. André du Toit het Vrydag tydens ‘n hartroerende herdenkingsdiens by die NG Gemeente Driehoek van hom afskeid geneem.

Lees die volledige berig oor sy afsterwe onder:

Gewilde dr. André sterf onverwags tydens fietsren

VANDERBIJLPARK. – Die skielike dood van een van die dorp se gewilde algemene praktisyns, dr. André du Toit (59), stuur sedert Saterdag, 27 Mei, skokgolwe deur plaaslike mediese kringe en sy wye pasiëntebasis.
Dr. Du Toit, wat sedert 1991 eers by Vaalmed en daarna by Emfuleni Mediclinic in Vanderbijlpark gepraktiseer het, het die Saterdag tydens ‘n fietsren in Clarens beswyk.

Volgens sy vrou, Annelie, was hy die betrokke naweek saam met hul swaer en susterskind in Clarens om aan die Amohela-bergfietswedren deel te neem. Die Saterdag se wedren het oor 30 km gestrek, maar 4 km voor die eindstreep het hy skielik ‘n hartaanval gehad. Mediese personeel was onmiddellik op die toneel en sy vriend en kollega, dr. Johan Ellis, het ook daar aangekom en alles moontlik gedoen om hom te help, maar dit was te laat.

Annelie het die naweek by haar suster in Johannesburg gekuier toe haar swaer die skoknuus oor dr. André se dood aan hulle oorgedra het. “Dit was totaal onverwags en is steeds ondenkbaar,” sê sy. Dr. André was ‘n kranige fietsryer en sportman met agt Baviaanse en Ystermankompetisies, verskeie fietswedrenne, Comrades en driekampe agter die blad.

Dié gewilde dokter is op 13 Junie 1963 in Vanderbijlpark as seun van die bekende destydse apteker, wyle mnr. Gustaaf du Toit en sy vrou Mariana gebore, en het in 1981 aan die Hoërskool Transvalia gematrikuleer. In 1986 het hy die graad MB ChB aan die Universiteit van Pretoria behaal. Na sy en Annelie se troue in Desember daardie jaar het hulle na Kroonstad verhuis, waar hy sy huisdokterjaar gedoen en twee jaar as siekeboegbevelvoerder gewerk het. In 1991 het die egpaar na Vanderbijlpark teruggekeer, waar hy by Vaalmed aangesluit en later sy privaatpraktyk by Emfuleni Mediclinic geopen het.

“Hy was ons gesin en familie se steunpilaar en anker, altyd betroubaar en stabiel. Hy was ‘n familiemens, nederig en baie dankbaar vir wat hy gehad het. Sy gesin was baie belangrik vir hom. Hy was altyd beskikbaar vir ons en sou enige probleem uitsorteer om seker te maak dat ons gelukkig is. Hy was baie ‘caring’ en het soveel omgegee. Hy het van mense gehou en sou met enigeen ‘n gesprek aanknoop,” sê Annelie.

“Hy het ‘n uitsonderlike algemene kennis gehad – veral in sport. Hy het graag fietsgery, tuingemaak, gelees en na sport gekyk. Ons sal hom altyd onthou vir sy nuuskierigheid en ondeundheid, sy rooi wange en heldergroen oë. En ook vir sy liefde vir my en ons gesin. Hy het ‘n lekker sin vir humor gehad en was lief daarvoor om droë grappies of dad jokes te vertel en het dan alte lekker vir sy eie grappies gelag. So nou en dan het hy onverwags ‘n stukkie ‘operamusiek’ gesing, wat almal laat skaterlag het,” onthou Annelie.

Dr. André word buiten sy vrou ook oorleef deur sy dogter, Liza-lie Olivier, skoonseun Ettiene en kleindogter Ava-lie van Australië, seun André du Toit, skoondogter Stephanie en kleinseun Aurelio van Amerika, ‘n suster, Anél Zapke van Namibië, en sy moeder, mev. Mariana du Toit van Groenkloof, George.
‘n Gedenkdiens is Vrydag, 2 Junie by die NG Gemeente Driehoek in Vanderbijlpark gehou.

 

DR André du Toit en sy vrou, Annelie.
Dr. André du Toit saam met sy gesin: Agter van links is skoonseun Ettiene Olivier, seun André du Toit, dr. André en skoondogter Stephanie du Toit. Voor sit dogter Liza-Lie Olivier en sy vrou, mev. Annelie du Toit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button