Local newsNewsNews

Klagtes oor stortingsterrein buite Vereeniging

Inwoners van kleinhoewes buite Vereeniging het 'n klag teen Averda, multinasionale afval- en herwinningsmaatskappy, by die Groen Skerpioene aanhangig gemaak oor besoedeling wat glo van die Vlakfontein-stortingsterrein buite Vereeniging afkomstig is.

*Die storie het in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (2 – 8 Junie 2023) verskyn. Koop ons koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.

VEREENIGING. – Inwoners van kleinhoewes naby die Vlak-fontein-stortingsterrein buite Vereeniging het hulle nou tot die Groen Skerpioene gewend weens voorturende probleme met “skadelike gasse” en reuke wat blykbaar deur die stortingsterrein vrygestel word.

Die gasse en reuke is blykbaar afkomstig van die Vlakfontein-stortingsterrein, ‘n storingsterrein vir skadelike stowwe buite Vereeniging.

Die stortingsterrein word deur Averda, ‘n multinasionale afval- en herwinningsmaatskappy bestuur.

Inwoners sê die lug bokant Helenasrus is besoedel met ammoniak, koolstofmonoksied, swaeldioksied en waterstofsulfied.

Inwoners kla ook oor ’n reeks gesondheid- sprobleme wat bloeiende neuse, naarheid, seer kele, borspyne, hoofpyne en resperatoriese probleme insluit.

In ‘n petisielys wat die afgelope week op sosiale media aangestuur is kla Susan de Beer, ‘n inwoner, dat die besoedeling so erg is dat inwoners sukkel om te slaap en asem te haal.

“Hierdie gasse en reuke het ‘n uiters nadelige uitwerking op ons fisiese en geestelike gesondheid,” skryf De Beer in die petisie-dokument.

Volgens inwoners kom die probleme al ‘n paar jaar aan, maar sedert Desember 2021 het die intensiteit daarvan aansienlik vererger.

Volgens ‘n inwoner het lesings wat in Februarie 2022 geneem is getoon dat van die gasse die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) se perke by verre oorskry het en dat ammoniakvlakke glo 15 keer hoër as gesondheidsvereistes van die WGO was.

Inwoners is ook bekommerd dat gifstowwe ondergrondse waterbronne kan besoedel, veral aangesien meeste van die inwoners van boorgatwater afhanklik is.

Elize Aucamp, DA-raadslid vir Wyk 45 van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het namens inwoners ‘n klag teen Averda by die Groen Skerpioene aanhangig gemaak.

Die Vlakfontein-stortingsterrein buite Vereeniging. Foto: Verskaf

Vaalweekblad het navrae aan Reg Gerber, bestuurder van die Vlakfontein-stortingsterrein, gestuur.

Averda het in antwoord op die klagtes gesê die maatskappy is bewus van inwoners se besware. Averda, wat in 2016 beheer oor die stortingsterrein geneem het, sê ook dat die maatskappy oor ‘n geldige lisensie beskik om skadelike afval te hanteer en dat ‘n omvattende omgewingsimpakstudie

destyds gedoen is om die impak daarvan te bepaal.

Volgens ‘n verklaring wat deur Averda uitgereik is maak die stortingsterrein voorsiening vir skadelike afval, gewone afval, asbestos afval, behandelde mediese afval en “ander soorte afval”.

Volgens Avera word toetse oor die kwaliteit van die grondwater gereeld gedoen soos vereis word en is daar geen bewyse dat die grondwater besoedel is nie.

Averda erken daar was in ongeveer ‘n jaar terug ‘n voorval waar ‘n loogdam oorgeloop het, maar sê die voorval is onder die owerhede se aandag gebring en dat dat dit skoongemaak is.

Toetse is volgens Averda gedoen, wat bevestig het dat daar nie besoedeling van die grondwater was nie.

Averda sê ook dat die uitslae van die toetse jaarliks in ‘n ekstere ouditverslag gepubliseer word en dus in die publieke domein is.

Volgens Averda word die gehalte van lug rondom die stortingsterrein ook getoets, hoewel dit nie wetlik vereis word nie.

“Elke klagte deur die gemeenskap word ondersoek. Onlangs was daar verskeie klagtes ontvang – baie van hulle deur Susan de Beer (wat die petisie opgestel het) -, wat elk ondersoek is en in elke geval kon geen reuke opgespoor word nie,” sê Averda.

Avera sê indrukke wat geskep word dat Averda die gemeenskap met “dodelike gasse” vergiftig is nie waar nie.

Die bewering dat die wind skadelike stowwe soos ammoniak, swaelstofdioksied en koolstofmonoksied en waterstofsulfied na die gebiede van Helenasrus, Jakkalsrand, Falconridge en Vlakfontein waai kan volgens Averda nie waar wees nie.

“Helenasrus [Tabita] is 813m van die stortingsterrein, Jakkalsrand is 700m van die stortingsterrein en Falconridge is 3,8 km van die stortingsterrein. Die reuke kan nie so ver trek nie en dus word hierdie bewerings ook in twyfel getrek.”

Volgens Averda is lesings van ammoniak en waterstofsulfied binne die aanvaarbare norme. Averda sê ook dat swaelstofdioksied skadeloos is in die konsentrasies wat voorgeskryf word en dat koolstofmonoksied in elk geval in die atmosfeer voorkom en nie skadelik is tensy wanneer dit gekonsentreer word nie.

Daar is volgens Averda in elk geval geen bewys van koolstofmonoksied by die stortingsterrein nie. Averda trek ook die bewering dat ammoniakvlakke “15 keer hoër as die Wêreldgesondheidsorganisasie se standaard” is in twyfel.

Elize Aucamp, raadslid vir Wyk 45 van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit. Foto: Verskaf

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button