Midvaal: Die BESTE munisipaliteit in die land
Die top vyf munisipaliteite in die land is almal onder DA-beheer en in volgorde: Midvaal (72), Saldanha (72), George (71), Mosselbaai (70) en Swartland (70).
Deur Phil C. Pretorius, Raadsheer en Hoofsweep, Midvaal Munisipaliteit:
Na die nuus dat Midvaal ‘n NEGENDE skoon ouditverslag vanaf die Ouditeur Generaal van Suid-Afrika ontvang het, is Midvaal vir die tweede jaar in ‘n ry aangewys as die FINANSIEEL MEES VOLHOUBARE MUNISIPALITEIT IN SUID-AFRIKA deur Ratings Afrika. Hierdie eer het Midvaal te beurt geval te same met Saldanhabaai Munisipaliteit wat albei 72 uit 100 op hul Municipal Financial Sustainability Index (MFSI) behaal het.
Ratings Afrika is uitsonderlik gekwalifiseer vir hierdie evaluasie. Hulle is ‘n onafhanklike agentskap wat in 2007 die regeringsevaluasies van CA-Ratings oorgevat het toe dit aan Moody’s verkoop is. Hulle spog met meer as 30 jaar se ondervinding in die lewer van hierdie klas evaluasies en ongeveer 150 jaar se gesamentlike ervaring van die evaluasiespan (www.ratingsafika.com). Hulle evalueer onder andere die operasionele prestasie, bates- en lastebestuur, begrotingspraktyke en likiditeit (www.ratingsafrika.com) van 112 munisipaliteite en 8 metros uit die 257 plaaslike regerings in Suid-Afrika.
Ratings Afrika neem wel dienslewering ook in ag en definieer finansiële stabiliteit as die vermoë om dienste te lewer, infrastruktuur te ontwikkel en te onderhou, asook die kapasiteit om finansiële skokke (bv.: grendelstaat en natuurrampe) te kan absorbeer. Die faktore wat volgens hulle die stabiliteit van munisipaliteite beïnvloed is onder andere: vaardighede, ervaring, finansiële dissipline, kwaliteit van die bestuurspan en ‘n sterk gegronde politieke leierskap.
Die top vyf MUNISIPALITEITE in die land is almal onder DA-beheer en in volgorde: Midvaal (72), Saldanha (72), George (71), Mosselbaai (70) en Swartland (70). Die beste METRO is Kaapstad met 68 uit 100. Slegs Midvaal is nie in die Wes-Kaap nie. Dit is opvallend dat hierdie munisipaliteite en metro ononderbroke bestuur deur die DA gehad het en nou blom. Waar die DA in bewind is of was, maar inmenging plaasgevind het, gaan dit betreklik langer vat om die instansies te stabiliseer. Waar ander partye aan bewind is, vind ons dat sommige provinsies soos NoordWes se hoogste evaluasie Potchefstroom is, met ‘n skamele 35 uit 100.
Onlangs op Radio 702 word Midvaal-burgemeester Peter Teixeira se onderhoud met John Pearlman oor die negende skoon oudit gekaap deur inwoners wat kla oor ‘n slaggat hier en ‘n dooie straatlig daar, so asof ‘n oudit en ‘n Ratings Afrika-evaluering ‘n munispaliteit immuun maak teen probleme. Midvaal is die eerste een om te erken dat daar talle probleme is wat opgelos moet word en dat daar na drie jaar se ongekende hoë reënval baie werk is om te doen. Dit is vir hierdie rede dat Midvaal weer eens by hul raadsvergadering van 25 Mei 2023 ‘n R1.8 biljoen se diensleweringsbegroting EENPARIG goedgekeur het.
In weerwil van die opinie van die Tesourie, dat Midvaal se tariewe TE LAAG is en opgestoot moet word, het Midvaal steeds ‘n LAER verhoging as die voorgestelde NERSA-aanpassing goedgekeur om inwoners tegemoet te kom. Ongelukkig was John Pearlman so vasgevang deur die luisteraars van The Drive Show wat 15 sekondes se roem en pessimisme najaag dat hy die volgende dag ‘n ekspert ingekry het om te verduidelik hoe ‘n oudit dan nou eintlik werk. Kevin Allan van Municipal IQ verduidelik dat ‘n munisipale oudit dieselfde is as enige ander besigheidsoudit. Die idee is om te bevestig dat die bestuur en finansies van die instansie akkuraat weergegee word in die state en jaarverslag. Goeie bestuur is dus die fokus van ‘n oudit. Volgens Allan is dit egter ‘n duidelike aanduider van hoe die instansie verder funksioneer met betrekking tot byvoorbeeld dienslewering en verantwoordbare leierskap.
Wat munisipaliteite aanbetref beteken dit nie dat goeie finansiële bestuur en volhoubaarheid waarborg dat dit die MOOISTE munisipaliteit is wat NOOIT enige slaggate gaan kry en NOOIT enige uitdagings in die gesig gaan staar ten opsigte van dienslewering nie. Maar dit beteken wel dat jou munisipaliteit deur meer as een erkende instansie as goed, verantwoordbaar en stabiel erken word, na hul inwoners luister, omgee en optree waar nodig. In my boekie beteken dit in die huidige Suid-Afrika alles.
Trotse Midvaalgroete, Ph!l.
Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App

