Oornag by besigheid ingebreek
Groot skok toe werkers koffiewinkel oopsluit vroegoggend
VANDERBIJLPARK. – Nadat die areabestuurder, Mnr Jason Woolard van vida e caffé vanoggend telefonies gesë het dat daar by vida e caffé in Vaalpark ingebreek is, het Vaalweekblad bevestiging ontvang dat die inbraak by vida e caffé in Beethovenstraat, Vanderbijlpark was.
Volgens bestuurder Belinda Noel het hul voor 05:00 op die chaos afgekom. Die inbrekers het die sekuriteitskameras opsy geskuif en die alarm ontkoppel.
Die kluis is ook van bo af oopgesny en al die geld wat binne was is gesteel.
Belinda sê niemand is in die voorval beseer nie, maar een van die jong werkers wat in ‘n kamer op die perseel slaap is getraumatiseerd.
Die inbrekers het blykbaar sy selfoon afgeneem en hom in sy kamer toegesluit.
Arrie Coetzee van Public Eye in Vaalpark sê hy het 05:00 ‘n oproep van Belinda ontvang oor die inbraak.
Die polisie is in kennis gestel en het later opgedaag om ondersoek in te stel.
Alle opruimingswerk was vroegoggend reeds gedoen en tans is die bekende koffiewinkel weer oop vir besigheid.
