Valiant Swart se “Lied van die langpad” bring aansteeklike energie na vore
"Lied van die langpad" se musiekvideo is nou beskikbaar op Youtube
Valiant Swart, een van Suid-Afrika se gewildste kunstenaars, is verheug om die vrystelling van sy nuwe musiekvideo, “Lied van die langpad”, aan te kondig. Die maak van die musiekvideo was ‘n groot sukses en het ‘n aansteeklike vibe en ongelooflike energie in die lug gehad. Swart sê hy het lanklaas so helder oordag gedans, en dit op ‘n Maandag nog!
“Die eindproduk van die musiekvideo is fantasties” vertel Valaint. Die energie is amper tasbaar en die filmspan het uitstekend daarin geslaag om die beste uit die rolspelers te kry. Die produksie het almal met groot glimlagte agtergelaat. Swart is trots op die afwerking van die musiekvideo en glo dit sal die harte van sy ondersteuners verower.
Die regisseur en sy span het puik werk gelewer deur die energie van die liedjie na die skerm oor te dra.”Ek wil die hele span bedank vir hul harde werk en toewyding aan hierdie projek,” het Swart bygevoeg.
Valiant Swart nooi al sy ondersteuners en musiekliefhebbers om saam te kom dans en die aansteeklike energie van die video te ervaar.
*********************************************************************************************
Nuwe insig kom deur waarneming en nie met redenasies nie. Valiant Swart het deur die jare juis só tot ’n nuwe verstaan van die lewe gekom. Met ’n loopbaan wat strek vanaf 1988 en talle kilometers op die pad, het Valiant Swart al die kante van die lewe gesien. Sy nuwe album, RONDRY, FLIEK EN DIE BUITELEWE, is ’n versameling karaktersketse wat deurspek is met die strewe na vryheid.
Die inspirasie vir die album is jare se waarneming van mense en plekke. Hy verduidelik dat dié versameling liedere die lewe van alle kante benader. Party temas raak aan die strewe na vryheid, geluk en vervulling, terwyl ander die moeiliker tye in die lewe ondersoek.
Die musiek kan vanuit ’n musikale oogpunt beskryf word as bittersoet, maar steeds opgeruimd. Die musiek is vrolik, maar met tye melankolies – eg aan goeie rock-en-roll musiek.
Met RONDRY, FLIEK EN DIE BUITELEWE bly Swart (wat bekend is vir sy rock, country en blues musiek) trou aan sy musiekstyl en voeg hy nuwe liedere tot sy repertoire wat tuis sal wees op die langpad, sowel as om ’n kampvuur. Die temas van die liedere sal vergenoegdheid by jou wakker maak en jou sorge opsyskuif.
Swart, wat deur die jare groot bekendheid verwerf het met liedere soos EYESHADOW, KLEINMOND KOEBAAI, JAKARANDASTRATE en LIEFDE BY DIE DAM verduidelik dat sy grootste inspirasie vir musiek van sy pa afkomstig is. Sy liefde vir lirieke is te danke aan sy ma wat by hom ’n liefde vir geskrewe woorde gekweek het. Dis egter sy vrou wat hom daagliks aanspoor om na meer as 30 jaar steeds te kan doen waarvoor hy lief is.
Vroeër in sy lewe, terwyl hy in Sunnyside (Pretoria) gewoon het, het Swart se paaie met dié van Koos Kombuis gekruis. Swart vertel dat hy in daardie stadium reeds ’n groot aanhanger van Koos Kombuis se musiek en gedigte was.
Hy het die geleentheid gebruik om vir Koos van die eerste liedere wat hy geskryf het te speel. Sonder om te huiwer, het Koos hom as sy kitaarspeler aangestel en hom onder die vlerk geneem. Koos het opgetree as mentor en vir Swart geleer hoe om lirieke te skryf en musiek te komponeer.
Met die verloop van tyd het Swart sy eie stem begin vind. Na afloop van sy diensplig het hy terug Stellenbosch toe gegaan met ’n hele arsenaal nuwe liedere. Saam met ’n skoolmaat en ’n paar musiekvriende het hulle die Valiant Swart Band gestig. Dit was die begin van ’n loopbaan wat vir Valiant regoor Suid-Afrika sou neem.
Sedertdien het hy en sy musici by al wat ’n rockfees is, opgetree; Houtstok in 1990, OppiKoppi, Rustler’s Valley en Splashy Fen. Swart het ook talle musiektoekennings oor die jare verower, maar sonder die SAMA wat hy saam met Ollie Viljoen vir die album VUUR EN VLAM gewen het uit bo almal.
Valiant Swart se reise, kleurryke loopbaan, skryfvernuf en gawe om te komponeer, laat sy storievertelling deur musiek tot sy reg kom. Sy nuwe album is gebore uit observasie oor die jare. Na meer as 35 jaar op die pad kan luisteraars uitsien na ure se luistergenot met RONDRY, FLIEK EN DIE BUITELEWE.
“Lied van die langpad” se musiekvideo is nou beskikbaar op Youtube:
https://www.youtube.com/watch?v=x-NCNtLg8fw
SOCIAL MEDIA
Facebook: https://www.facebook.com/valiantswartpage
