Meer as ‘n dosyn Vaalies durf Comrades aan
Meer as ‘n dosyn atlete van die Vaal Atletiekklub is slaggereed om Sondag die Comrades Marathon aan te durf.
VEREENIGING. – Die atlete het almal vir die Comrades gekwalifiseer, die heel jaar lank geoefen en nou is dit tyd om tekkie aan teer te sit.
Margaret Labuschagne, een van die klub se mees gesoute Comrades-atlete, wat in totaal 23 medaljes sedert haar eerste wedloop in 1993 ingepalm het, hardloop vanjaar haar 24ste Comrades.
Tydens ‘n Comrades-geselligheid van die Vaal Atletiekklub by Baracca-restaurant in Vereeniging op 20 Mei het sy ander atlete wat aan dié jaar se Comrades gaan deelneem sterkte toegewens.
“Dit gaan ‘n lang dag wees. Dit maak nie saak of dit jou eerste of jou 24ste wedloop is nie, wat belangrik is, is dat jy dit tot die einde toe deursien,” sê sy.
Cor Grey, wat reeds 17 wedlope voltooi het en vanjaar sy 18de Comrades aandurf, waarsku atlete om niks nuuts voor die Comrades of op die dag van die wedloop te probeer nie.
“Vat dit een tree op ‘n slag en hou aan om in die regte rigting (vorentoe) te beweeg. Moet nooit omdraai as jy ‘n watersakkie laat val nie. Beweeg net vorentoe,” sê die Comrades veteraan.
Leon van Rensburg, wat reeds 16 wedlope voltooi het en vanjaar sy 17 Comrades aandurf, sê: “Dit gaan ‘n lang dag wees. Teen 60 km gaan almal seer wees. Al wat ek kan sê (aan die nuwelinge) is dat jou kop na 60 km sterk moet wees. Dit is belangrik dat jy vorentoe beweeg. ”
Christiaan Cloete, wat reeds 14 wedlope voltooi het en vanjaar sy 15de Comrades hardloop, waarsku nuwelinge om versigtig te wees vir die katogies op die pad waaroor mens maklik kan struikel.
“Wees veral versigtig in die eerste paar kilometer in Pietermaritzburg, waar dit donker gaan wees en daar baie atlete op die pad is. Probeer om die lyn in die middel van die pad en die lyne weerskante te vermy, want dit is waar jy maklik oor die katogies kan struikel en val en een val kan jou hele wedloop in die wiele ry,” sê hy.
Jacques Burger, ‘n atleet wat reeds 10 Comrades-wedlope voltooi het – en in 2016 ‘n silwermedalje verwerf het – durf hierdie jaar sy 11de Comrades aan.
Hy waarsku dat atlete nie iets snaaks die nag voor die wedloop moet eet nie.
Pieter de Wet, ‘n atleet wat sy eerste Comrades in 1989 gehardloop het en vanjaar sy sewende Comrades aandurf, sê hy mik om vanjaar se wedloop onder 11:00 ure klaar te maak, maar sal ook tevrede wees om so ‘n kwartier voor die finale skoot klap oor die lyn te kom as dinge nie volgens plan verloop nie en hy moet terugval op Plan B.
Charl Beukes, voorsitter van die Vaal Atletiekklub, en Harry Mc Kinnick durf vanjaar albei hul tweede Comrades aan.
Atlete se wenkbroue het gelig toe hulle hoor hoe min oefenmyle Mc Kinnick ingesit het ter voorbereiding vir vanjaar se Comrades, maar hy reken hy spaar homself vir die wedloop.
Heinrich Birkner, Jacques Ferreira en Michelle Fogolin van die Vaal Atletiekklub hardloop vanjaar almal vir die eerste keer en is baie opgewonde.
