Valie is sterke onder die sterkstes
Die Vaaldriehoek is trots op een van ons jongmanne wat uitstekend by die Arnold Classic Africa 2023 se sterkmankompetisie gevaar het.
VAALPARK. – Sterkmankompetisies het al hardebaarde laat bloedsweet. Dit vat gewoonlik maande se voorbereiding en afrigting om hierdie moordende kompetisie aan te pak.
Min manne sal genoeg moed hê om ‘n maand voor die tyd te besluit om vir die eerste keer aan ‘n sterkmankompetisie deel te neem. Dis presies wat Henlo Brewis (19) van Vaalpark gedoen het.
Die jong fiksheidsinstrukteur by een van die groot gimnasiums in die Vaal sê einde April het iemand vir hom gevra waarom oorweeg hy dit nie om aan die sterkmankompetisie by die Arnold Classic Africa 2023 deel te neem nie.

“Ek het op die ingewing van die oomblik besluit om dit te doen en het sowat ‘n maand gehad om voor te berei,” vertel Henlo, wat sê hy het in die Covid-pandemie tydperk ernstig begin gym.
Die groot kompetisie het op 20 en 21 Mei by die Ruimsig Stadion in Roodepoort plaasgevind. “Ek het nie geweet wat op my wag nie,” lag hy.
Die kompetisie was baie straf met drie items op die eerste dag en drie op die tweede dag.
Dit het alles ingesluit – van sandsakke van onderskeidelik 60 kg, 2 x 80 kg, 100 kg en 120 kg ronddra vir 10 m tot by “deadlifts” van 225 kg en ‘n 8 ton Monster Trok al sittend na jou toe trek.
Henlo het in die Novice-afdeling ingeskryf en algou sy staal gewys onder baie meer ervare manne. Hy het uiteindelik met die silwermedalje weggestap.
“Ek het besef ek is sterk genoeg, my tegniek ontbreek nog net,” vertel hy rustig. Op die stadium is hy nie seker of hy verder met die Sterkman-kompetisies sal gaan of eerder op liggaamsbou gaan konsentreer nie.

“Ek beoog om teen die einde van die jaar aan liggaamsboukompetisies deel te neem. Ek sal kyk hoe gaan dit daar, maar moontlik is ek volgende jaar terug by die Arnold Classic se sterkmankompetsie.”
Henlo moes op skool aan sport onttrek nadat hy met Scheuermann kyphosis, ook bekend as Scheuermann disease gediagnoseer is.
“Dit het groot rugprobleme veroorsaak en die dokter het aanbeveel dat ek nie meer kontaksport doen nie. Een verkeerde duikslag op die rugbyveld kon my verlam laat,” onthou hy daardie tyd.
Alhoewel hy jammer was om op te hou rugby speel, is hy vandag nie spyt dat hy begin gym het nie. “My rugprobleme het baie verbeter en dit was regtig lekker om my eie limiete te toets tydens die kompetisie.”
Alhoewel hy die kompetisie geniet het, sê hy hy was vir ‘n week daarna styf en seer. “Ek wou niks anders doen as net rus nie. Ek kon nie beweeg nie,” lag hy.
Hy het reeds ‘n afrigter in die oog by wie hy aanlyn gaan aanklop om hom die fynere tegnieke van die sterkman-items te leer.
Net miskien, bring hy volgende jaar die goue medalje huis toe, ‘n mens weet nooit.
