Fris Boerseuns en tawwe Tinas kan hul slag kom wys by die BOEREJOL!
Die Boerejol gaan 24 Junie van 09:00 tot 16:00 by Centurions Motorfietsklub in Shakespearestraat gehou word. Kom kuier saam!
VANDERBIJLPARK. – As jy graag jou vriende, kollegas en spanmaats wil uitdaag vir ‘n prettige wedstryd, is hier net die regte geleentheid vir jou by die Boerejol. Dit gaan 24 Junie van 09:00 tot 16:00 by Centurions Motorfietsklub in Shakespearestraat gehou word – en alles is vir ‘n goeie doel!
Die “Fris Boerseun”- en “Tawwe Boeredame”-kompetisie is ‘n lekker uitdaging vir fikse mense tydens die Boerejol. Dit behels die skuif van sakke (40 kg vir mans en 20kg vir dames) in drie afdelings oor ‘n spesifieke afstand in ‘n vasgestelde tyd.
Die afdelings is:
• Dra een sak op ‘n slag van een lyn na ‘n ander, sit die sak neer en gaan haal nog een.
• Sit twee sakke op ‘n kruiwa en stoot die kruiwa op en af oor ‘n voorafbepaalde afstand.
• Laai die sakke op ‘n platbak-bakkie.
Die afdeling word gewen deur die deelnemer wat die meeste sakke in die vasgestelde tyd kan laai. Die wedstryd word met trots geborg deur Hinterland en hulle verskaffers en verskeie pryse is op die spel. Dit kos slegs R10 om deel te neem.
Daar gaan die dag ook ‘n wedstryd wees om die “Beste en weligste baard” aan te wys. Inskrywing kos net R10 en verskeie pryse sal gewen kan word! Om in te skryf, stuur ‘n WhatsApp na 083 484 8707.
Die kompetisies gaan op 24 Junie vanaf 12:00 plaasvind as deel van die Boerejol-boeremark, vlooimark en buitelewe-uitstalling.
Die verhoog word benam deur DJ Ben en buiten ‘n boeremusiek-orkes sal daar ook optredes deur Carlo Leone, Leigh, Neels Kriel & Marie, en The Wolfpack wees. Kleingoed gaan baie welkom wees en prettige gratis aktiwiteite gaan heeldag by die speelplek, Die Kaalvoetklonkies, vir hulle verskaf word.
Kosstalletjies sal ‘n wye verskeidenheid eetgoed te koop aanbied. Daar is reeds 50 bevestigde uitstallers en daar is plek vir nog ‘n paar stalletjies. Stuur ‘n Whatsapp na 083 625 0365 as jy ‘n stalletjie wil bespreek. Daar is geen beperking op wat jou stalletjie mag verkoop nie.
Die dag word aangebied in samewerking met Afriforum se Vanderbijkparktak en Centurions Motorfietsklub. Dit is een van die min geleenthede per jaar wat Centurions Motorfietsklub sy deure oopmaak vir die hele gemeenskap en nie net vir motorfietsryers nie.
Alle wins uit die Boerejol is ten bate van behoeftiges in die gemeenskap.

