Local newsNewsNews

Emfuleni-raadslid betaal al sewe jaar lank nie munisipale tariewe nie

Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit sukkel om skuld in te vorder, maar Andries Lekeletsane, ANC-wyksraadslid vir Wyk 39 van die sukkelende Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, betaal glo die afgelope sewe jaar nie munisipale tariewe nie.

SEBOKENG. – Lekeletsane, wat in 2016 tot wyksraadslid verkies is, is van munisipale tariewe kwytgeskeld en lewe van ‘n belastingbetalerssubsidie af.

Dié soort subsidie word meestal aan behoeftige huishoudings toegeken, indien hulle daarvoor kwalifiseer.

Die enigste probleem is dat Lekeletsane sowat tien keer meer as die vereisde limiet vir so ‘n subsidie verdien.

Hy verdien glo bykans R40 000 per maand, terwyl net mense wat R3 500 of minder betaal daarvoor kwalifiseer.

Lekeletsane was Woensdag (28 Junie 2023) op die voorblad van die Sowetan-dagblad nadat dit aan die lig gekom het.

Andries Lekeletsane het koerantvoorblaaie gehaal. Hier is hy op die voorblad van die Sowetan-dagblad. Foto: Verskaf

Die sukkelende Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit is een van Gauteng se armste munisipaliteite en kniediep in die skuld by Rand Water en Eskom.

Die munisipaliteit sukkel ook om agterstallige geld in te vorder.

Lekeletsane het aan die dagblad gesê dat hy nooit gevra het om op die register van behoeftiges geplaas te word nie.

Lekeletsane vertel hoe hy in 2008 na Evaton verhuis het, waar meeste van die inwoners nie in besit van titelakties is wat aan munisipale rekeninge gekoppel is nie.

Hy erken dat hy reeds die afgelope sewe jaar nie munisipale tariewe betaal nie, maar sê die probleem is dat hy en ander inwoners van die gebied nie oor titelaktes beskik wat aan ‘n munisipale rekening gekoppel word nie.

Volgens Lekeletsane het hy die speaker oor die kwessie genader.

Andries Lekeletsane beweer hy het nooit aansoek gedoen vir ‘n subisidie nie. Foto: Verskaf

Vaalweekblad verstaan mens moet by die raad registreer vir ‘n belastingbetalerssubsidie, iets wat Lekeletsane beweer hy nooit gedoen het nie.

Makhosonke Sangweni ,woordvoerder van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, het by navraag aan die dagblad gesê die munisipaliteit het geen kennis gedra dat Lekeletsane uit die program baat nie.

Volgens Kingsol Chabalala, ‘n DA-lid van die provinsiale wetgewer in Gauteng, het die party dit verlede maand onder die speaker se aandag gebring, maar nog geen terugvoer ontvang nie.

Chabalala meen Lekeletsane se dade is krimineel, aangesien dit op bedrog neerkom.

Kingsol Chabalala van die DA het dit verlede maand onder die speaker se aandag gebring. Foto: Verskaf
Die kantoor van die speaker, Sibongile Soxuza, weet glo van niks. Foto: Verskaf

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button