Local newsNewsNews

Kaleidoskoop van dinamiese predikers by mielielandkerk

Die kerk het nie 'n vaste predikant nie, maar maak staat op ongeveer 10 predikers wat Sondae op ’n rotasiebasis by die kerk preek.

*Die storie het in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (23 – 29 Junie, 2023) verskyn. Koop ons koerant op Vrydae vir die jongste nuus.

MEYERTON. – Toe dr. Johan Cloete, voormalige predikant van die Kerk tussen die Mielielande, 31 Augustus 2020 afgetree (geëmiriteer) het om sy aandag voltyds op sy sielkundepraktyk te vestig het daar kommer ontstaan oor dié gemeente se voortbestaan.

Drie jaar later gaan die kerk steeds volstoom aan danksy vindingryke ingrypings.

Die Kerk tussen die Mielielande. Foto: Christiaan Cloete

Die kerk is een van die min NG-gemeentes sonder ‘n vaste predikant, maar danksy sowat 10 predikers wat op ’n rotasiebasis by die kerk preek, is daar elke Sondag ’n erediens.

Van die predikers is professore by die Universiteit van Pretoria se teologiese fakulteit en sluit onder meer die gewilde ds. Jaco Strydom, ds. Charlotte Sibanyoni (eerste swart vrou wat as predikant in die NG Kerk gelegitimeer is), prof. Christo Lombaard, prof. Sias Meyer, ds. Danie Veldsman, dr. Gerhard Bothma, dr. Gustav Claassen, en dr. James Kirkpatrick in.

Eredienste word weekliks op die gemeente se Facebookblad (https://www.facebook.com/ktdmvereeniging) geadverteer.

So kan gemeentelede en besoekers besluit by watter predikers hulle die meeste aanklank vind en watter dienste om by te woon.

Die gewilde ds. Jaco Strydom is een van die predikante wat op ‘n rotasiebasis by die kerk preek. Foto: Facebook

Volgens me. Charlotte Cloete, koördineerder van die kerk, het dit vir die gemeente ekonomies meer sin gemaak om predikers per diens te betaal as om ‘n vaste predikant aan te stel.

As ‘n bonus bak Tannie Marie van den Berg, ‘n gemeentelid wat bekend is vir haar bakvernuf, elke Sondag vir die prediker ‘n melktert.

Die kerkraad bestaan uit jong en dinamiese lidmate. Die kerkraadsvoorsitter, Johan van Niekerk, is ‘n 39-jarige apteker.

Volgens Charlotte val die klem veral om die kerk so inklusief as moontlik te maak vir die mense wat die gemeente dien.

Die gemeente het ‘n reeks vindingryke inisiatiewe en daar is feitlik elke dag lewe op die kerkterrein.

Jestus Fouche, ‘n afgetrede polisieman en traumaberader, doen berading by die kerk. Foto: Christiaan Cloete

*Jestus Fouche, ‘n afgetrede polisieman, doen traumaberading. Hy is Maandae, Woensdae en Vrydae vanaf 08:00 tot 13:00 by sy kantoor by die Kerk tussen die Mielielande beskikbaar. Jestus hanteer ook hospitaalbesoeke.

*Die kliniek op die kerkterrein, wat deur personeel van die Kookrus-kliniek beman word, bied gesondheidsdienste aan mense van die plaaslike gemeenskap en pasiënte van so ver as die Uitvlugt-kleinhoewes, Drie Riviere en selfs Peacehaven.

Die kliniek is Maandae, Dinsdae en Donderdae vanaf 08:00 tot 13:00 oop.

Volgens Suster Albah September word Maandae uitgesit vir babas, siek mense en pasiënte wat vorige afsprake gemis het.

Dinsdae is vir swanger vroue, siek volwassenes en kinders, sowel as papsmere en inplantings van die Implanon-voorbehoedmiddel. Donderdae is vir kroniese pasiënte.

Suster Albah September by die kliniek op die kerkterrein. Die kliniek is Maandae, Dinsdae en Donderdae vanaf 08:00 tot 13:00 oop. Foto: Christiaan Cloete

*Die kerk bedryf ook ‘n broodjieprojek vir besoekers aan die kliniek. Nelson, die kerk se opsigter, is Maandae, Dinsdae en Donderdae gereed om broodjies te bedien.

*Daar is ook ‘n boekwinkel op die kerkterrein waar kerkgangers na kerk op Sondae tweedehandse boeke vir so min as R5 kan opraap.

*By die klerewinkel word kwaliteit tweedehandse klere verkoop. Die winkel is ook na kerk op Sondae oop.

*Die kerk beskik oor ‘n gemeenskapswerker, Sannah Ramone, wat speelgroepe aanbied en daar is selfs ‘n “speelgoed-biblioteek”, waar kinders speelgoed vir ‘n week kan huur.

*As deel van die kerk se verbintenis tot die planeet en ‘n volhoubare toekoms is die gemeente betrokke by die insameling van plastiekdoppies. Dit dien ook as ‘n fondsinsamelingsprojek, met die kerk wat sowat R2 ontvang vir elke kilogram doppies wat ingesamel word. Die doppies word na Heidelberg geneem waar dit herwin word en daar tuinmeubels van gemaak word.

Nelson, die kerk se faktotum, by broodjies en kos wat vir die besoekers aan die kliniek voorberei is. Foto: Christiaan Cloete
y die klerewinkel word kwaliteit tweedehandse klere verkoop. Die winkel is ook na kerk op Sondae oop. Foto: Christiaan Cloete
Jestus Fouche by die boekwinkel op die kerkterrein waar kerkgangers na kerk op Sondae tweedehandse boeke vir so min as R5 kan opraap. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button