Local newsNewsNews

Polisiebeamptes van Vereeniging, Zamdela vas oor korrupsie

Vyf polisiebeamptes is die afgelope week in Vereeniging en Welkom deur die Valke in hegtenis geneem in verband met voorvalle van ernstige korrupsie.

VEREENIGING. – Volgens die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (Valke) is die beamptes tussen die ouderdomme van 38 en 50.

Een van die verdagtes, ‘n 47-jarige luitenant-kolonel van Vereeniging, is op 28 Junie in Vereeniging vir korrupsie in hegtenis geneem.

Die offisier is in 2012 in Kestell na die pos van luitenant-kolonel bevorder.

Toe sy met haar nuwe pos begin het, het sy nie in Kestell gewoon nie.

Sy het glo ‘n amptelike voeruig gebruik om tussen Bethlehem en Kestell te reis.

Maande later het sy na bewering ‘n eis vir hervestigingskoste van ongeveer R20 000 ingedien sonder dat sy na Kestell verhuis het.

(Die hervestigingskoste is ‘n voordeel wat gegee word aan lede wat in ‘n pos buite hul primêre woonplek aangestel word).

Die saak is na die eenheid vir die ondersoek van ernstige korrupsie in Bloemfontein verwys en ‘n lasbrief is vir haar inhegtenisneming uitgereik.

Sy moet op 12 Julie 2023 in die landdroshof op Kestell verskyn.

In nog ‘n voorval is vier lede van Kroonstad se honde-eenheid en die Zamdela-polisie op 29 Junie 2023 in hegtenis geneem nadat hulle glo ongeveer R1 miljoen, wat vroeër tydens ‘n transitorooftog in Sasolburg in 2022 gesteel is, gevat het.

In plaasvan om die geld na ‘n SAPS 13-stoor te neem het die beamptes glo die geld in hul eie sakke gesteek.

Die vier verdagtes sou Vrydagoggend (30 Junie 2023) in die landdroshof op Sasolburg verskyn het op aanklagte van diefstal, dwarsboming van die gereg en geldwassery.

Die inhegtnisneming van nog ‘n polisiebeampte word verwag.

Maj. genl. Mokgadi Bokaba, die hoof van die Valke in die Vrystaat, het in reaksie op die inhegtenisnemings gesê sy is teleurgesteld in die gedrag van die offisiere.

Ons is meedoënloos in ons poging om korrupsie binne ons geledere uit te roei. Dit is ons grondwetlike plig om van vrot elemente in die stelsel ontslae te raak en die vertroue van Suid-Afrikaners in die polisie te herstel.

Wees verseker dat daar nog arrestasies sal volg,” sê sy.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button