‘Emfuleni, kom help ons asseblief uit die stinkende gemors’
Sakelui in nywerheidsgebied pleit vir hulp met verstopte drein
VANDERBIJLPARK. – Sakemense met besighede by Ferromill Industrial Park op die hoek van Delvos-boulevard en Michelinstraat, Vanderbijlpark, sit met hul hande in die hare oor ‘n riool-oorstroming wat nou al maande op die sypaadjie voor die perseel aan die gang is.
Verskeie van die sake-eienaars het die probleem al herhaaldelik in die afgelope maande by die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit aangemeld, maar tot dusver in hier nog geen oplossing nie.
Die probleem raak nou baie erg omdat die stinkende rioolwater oor die perseel se plaveisel begin stroom. Die sakemense is bekommerd dat dit hul kliënte gaan afskrik om hulle te besoek, en dat die onhigiëniese omstandighede tot siektes kan lei.
Omdat die verstopte drein op die sypaadjie die eiendom van Emfuleni is, mag lede van die publiek na regte nie self daaraan laat werk nie. Die sake-eienaars doen ‘n dringende beroep op Emfuleni om dadelik aandag aan die probleem te kom gee.




