Local newsNews

VatVas Dansorkes – Rudie se tokkel

Die orkes het veral gedurende die inperkerking so bekend soos boerewors en melktert geword met hulle  lewendige konsertvideo’s op die Live Music Band SA se Facebook-blad

As ’n mens na die VatVas Dansorkes luister, kan jou voete nie help om spontaan en ritmies te begin saam bons nie. Dit is ook wat ’n mens op die ritme van dié bekroonde orkes se nuutste enkelsnit, Rudie se tokkel, wil doen; jou dansmaat vasvat en tot laatnag skoffel. Dié manne, wat bestaan uit Rudie Grobler, Koos van Dyk, Martin Viljoen en Johan Duvenhage is nou al langer as ses jaar op die musiektoneel, en met die gepluk van die kitaarsnare en die gedom van die trom  het hulle ’n hele paar musiekpryse laat inrol. Hulle het al ’n SAMA-, ’n Aitsa, ’ n Afri-Indie,- en Ghoema-toekenning ontvang, en dié snit het reeds die musiekresensente penorent laat sit…

Dié groep, wat uit lede van verskillende generasies bestaan, wil graag hulle musiek so aantreklik moontlik vir alle musiekondersteuners maak. Hieroor sê Koos: “Ons wil daardie oemf in musiek terugsit. Een van ons mikpunte was om musiek te maak waardeur die jonges self deur ’n boom-box kan luister.’’ Rudie en Johan bespeel die elektriese kitare, Martin is op die baskitaar en Koos op die tromme.

Die snit, wat deur Rudie gekomponeer is, neem jou na aande om ’n bosveldhoutvuur, goeie rooiwyn en Suid-Afrikaanse sonskyn. Rudie is ’n meesterkitaarspeler en dié kitaar is ook die hoofinstrument in die snit. Volgens Rudie het hy ’n vinnige plektrum-styl ingespan om die snit ’n “boere-aanslag’’ te gee. Martin boer al lank in die musiekbedryf. Hy het sy eie opnameateljee en verkoop ook klank- en beligtingstoerusting. Rudie is ‘n ingenieur en Johan is ‘n boer en sakeman.

Na drie suksesvolle albums, waarvan verskeie van die liedjies goed op radiostasies landwyd ontvang is, is hulle al goed bekend onder die dansende menige. Hulle het veral gedurende die inperkerking so bekend soos boerewors en melktert met hulle  lewendige konsertvideo’s op die Live Music Band SA se Facebook-blad  geword.

Die  VatVas Dansorkes bewys weereens met Rudie se tokkel dat dansmusiek nog glad nie aan vervloë tye behoort nie. Die toekoms van dansmusiek is ook nie so duister soos wat sommige doemprofete voorspel het nie. Rudie se tokkel is ’n radiovriendelike snit en ondersteuners van die groep gaan glad nie teleurgesteld wees nie.  

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button