Local newsNews

MooiVaal Media groet oudkollega Karmen

"Baie mense sal haar onthou as 'n staatmaker wat altyd net wou gee en mense wou help, maak nie saak wat dit haar aan tyd of geld gekos het nie.

 

VANDERBIJLPARK. – ‘n Voormalige werknemer van MooiVaal Media, Karmen du Plessis (48), is verlede week oorlede, skaars twee maande nadat sy met breinkanker gediagnoseer is.
Volgens haar seun, Brendon, het Karmen en haar gesin op 12 Junie vanjaar die skoknuus ontvang dat sy aan gevorderde breinkanker ly. Sy is tuis deur Brendon en sy pa, Vincent, versorg tot die siekte haar lewe op 13 Augustus geëis het.
Karmen is op 11 April 1975 in Sasolburg gebore, waar sy grootgeword en aan die Afrikaanse Hoërskool Sasolburg gematrikuleer het. Sy was vir jare aan ‘n meubelgroep verbonde voordat sy by MooiVaal Media aangesluit het, waar sy in verskeie afdelings van die koerantgroep gewerk het. Met haar innemende persoonlikheid was sy as advertensiekonsultant baie gewild by kliënte. Sy het sedert 2019 haar eie drukwerk-onderneming, K’s Printing, bedryf.
“Baie mense sal haar onthou as ‘n staatmaker wat altyd net wou gee en mense wou help, maak nie saak wat dit haar aan tyd of geld gekos het nie. As iemand op haar knoppie gedruk het, was sy daar. Sy was vir baie mense ‘n steunpilaar wat baie gemis gaan word. Sy was ook bekend vir die mooiste tuin in Villa Kimera. Mense het gereeld gestop om na haar tuin te kyk,” sê Brendon.
“Ons sal haar altyd onthou as die pragtige vrou met die mooiste glimlag; ‘n vrou wat vir niks geskrik het nie en altyd geweet het hoe om enige probleem uit te sorteer,” sê hy.
Karmen word buiten Brendon en Vincent ook oorleef deur twee susters, Magda en Riekie Meyer.
Haar gedenkdiens is verlede Vrydag by die AGS Dinamika-gemeente in SE1, Vanderbijlpark gehou. Die gesin bedank graag almal wat hulle in dié hartseertyd bystaan.

Wyle Karmen du Plessis.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button