Local newsNews

Vroue kry meestersklas by gerekende skilder

Maria is spesiaal vir die dag uit Mosselbaai "ingevoer" deur die Vaaldriehoekse sakevrou en self skilder, mev. Magda Thomas, eienaar van die Vera Black Kunsgallery in Vanderbijlpark.

 

VANDERBIJLPARK. – Die normale miernes van tegniese bedrywighede by Tiger Wheel & Tyre in Rossini-boulevard het op Vrouedag, 9 Augustus, plek gemaak vir aktiwiteite van ‘n heel ander aard: 44 vroue met ‘n belangstelling in skilderwerk het die oggend om 09:00 aangemeld vir ‘n marathon-meestersklas van agt ure!
Die vroue het nie net uit die Vaaldriehoek gekom nie maar ook uit Middleburg, Klerksdorp, Potchefstroom, Randburg en Pretoria vir ‘n onvergeetlike bederfdag en opleiding deur die internasionaal-gerekende skilder, Maria Oosthuizen van House of Maria.
Maria is spesiaal vir die dag uit Mosselbaai “ingevoer” deur die Vaaldriehoekse sakevrou en self skilder, mev. Magda Thomas, eienaar van die Vera Black Kunsgallery in Vanderbijlpark. Magda het twee jaar gelede self een van Maria se klasse in Mosselbaai bygewoon en dadelik geweet: Dié kunstenaar moet ook in Vanderbijlpark kom aanbied. Net soos Magda, is Maria ‘n kind van die Here wat Hom verheerlik deur haar kunstalent.
“Maria se kunswerke getuig duidelik van die ‘inner warrior woman’-gevegte wat ons soms as vroue ervaar, maar ook van die oorwinning wat ons kry as ons Jesus in ons lewe het,” sê Magda.
Die deelnemende vroue het op Vrouedag ‘n geleentheid gekry om onder Maria se leiding een van haar bekende skilderye na te boots en die fyner kunsies met die kwas aan te leer. Tussendeur is daar heerlik geëet aan fynproewersgeregte wat keurig deur Wiannel van Zyl van Klein Bietjie Liefde voorberei is, afgewissel met uitstekende wyn en ontwerperskoffie!
Agterna het Maria tyd gemaak om met elke deelnemer te gesels en hul werk van die dag te bespreek. Buiten dat daar lekker gesels en gelag is, was daar ook ernstige oomblikke waar die kunstenaar met haar fyn aanvoeling vir die menslike psige, geweet het wanneer om net stil te luister en ‘n bemoedigende drukkie te gee… ‘n koesterende bederfdag waartydens die deelnemers veel meer as net ‘n gewone skilderklas ontvang het.

Mev. Magda Thomas (links) saam met die gevierde skilder, Maria Oosthuizen van House of Maria.

Skilders en kunsliefhebbers het op Vrouedag van heinde en ver in Vanderbijlpark byeengekom vir dié ongewone mareatahon-meestersklas.
Die skilder Maria Oosthuizen besig om die fyner kunsies van skilderwerk aan die kursusgangers te verduidelik.

Die skilder Maria Oosthuizen besig om die fyner kunsies van skilderwerk aan die kursusgangers te verduidelik.

Magda Thomas en haar span personeellede wat die hele dag hard gewerk het om alles vlot te laat verloop tydens die Vrouedag by Tiger Wheel & Tyre in Rossini-boulevard, Vanderbijlpark.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button