Op 95 trek Ouma Sannie Sasolburg toe
Vaalweekblad het deur die jare al dikwels berig oor dié besonderse vrou, wat tot in haar gevorderde jare steeds kans gesien het vir uitdagings waarvoor mense wat die helfte jonger is, sal skrik.
Ouma Sannie Bezuidenhout, wat onlangs haar 95ste verjaardag gevier het, het nou haar wortels in Frankfort opgetrek om voltyds in die Vaaldriehoek te kom woon.
Sy het onlangs na Sasolburg verhuis om by haar seun wat self al in sy 70s is, te kom woon. Sy is baie opgewonde om nou nader te wees aan haar uitgebreide nageslag, van wie meeste tot in die vierde en vyfde geslag steeds in die Vaaldriehoek woon.
Die meeste van Ouma Sannie se ses kinders (van wie drie reeds oorlede is) het hulle deur die jare in die Vaaldrioehoek kom vestig. Sy het ook 13 kleinkinders (een oorlede), 14 agterkleinkinders en verskeie agter-agterkleinkinders. Haar man, Ben Bezuidenhoudt, is reeds in 2002 oorlede.
Haar raad aan medebejaardes was nog altyd dat ‘n mens moet besig bly. “Ou mense wat sit en niks doen nie, gaan gou dood,” sê sy. Vaalweekblad het deur die jare al dikwels berig oor dié besonderse vrou, wat tot in haar gevorderde jare steeds kans gesien het vir uitdagings waarvoor mense wat die helfte jonger is, sal skrik. Sy het nog tot onlangs al haar huiswerk self gedoen en haar met verskeie kunsvorms soos lapverf, mosïekwerk en decoupage besig gehou. Haar familie beskryf haar as ‘n “yster van ‘n ouma”.
Om haar vriende en haar bekende lewe in Frankfort agter te laat en op 95 haar wortels na Sasolburg te verplant, was nie maklik nie, maar soos altyd beskou sy dit as ‘n uitdaging wat sy met positiwiteit aandurf.
“Sy doen nog alles op haar eie en is by haar volle verstand. Ons kan net die Here dank dat Hy haar steeds vir ons familie spaar,” sê haar kleinseun, Ben Marais van Vanderbijlpark.


