Local newsNewsNews

EK sê maar net…

RUBRIEK. - Van al die dorpe en woonbuurtes in die Vaaldriehoek, verdwaal ek die maklikste in Sasolburg, met die GPS aan. Lees meer...

RUBRIEK. – Laas Vrydag wil die mense nog lostrek met “dis heerlike lente, die winter is verby,” toe het Lente reeds haar goedjies weer gepak en die pad gevat.

Om die waarheid te sê, ek dink sy het nie eens gestop vir tee nie. Ons is so direk van winter binne in somer, behalwe die Augustuswinde waai steeds stof op en van reën in die Vaal was daar nog geen sprake nie.

Warm is dit wel. In my omswerwinge die week het myse Ford Mich al ‘n slag op 32°C gedraai.

Ai man, en lugverkoeling kan ek ook nie aansit in die motor nie, want met die hedendaagse petrolpryse doen mens enige iets om bietjie van daardie goue sousies te spaar.

So, is ek op ‘n stadium weer op weg oor die Vaalrivier, rigting Vrystaat. Van die rivier se silwer stroom vang ek net so hier en daar ‘n glinstering tussen die brugpilare deur.

Die vlaktes is nog in die tipiese winter vaal-geel getooi met so hier en daar die swart merke waar ‘n veldbrand koers gekies het.

Oral het bome al begin groen jassies aantrek, maar dit kreun nog van die stof. In die Vaal het ons mos nie gewone alledaagse rooi stof nie, oh nee, hier het ons nywerheidstof.

Swart en taai en genoeg om enige een totaal stoftroostig te maak. Mistroostig op hierdie stadium van die geveg sou beter gewees het, ten minste is daar gewoonlik ‘n nattigheidjie in mistige weer.

Verdwaal ek vir my in Sasolburg en dit met Tannie Google wat vir my in haar beste ingels aanwysings gee.

Sy links en regs en links weer en ek beland in ‘n straat (singel eintlik) met net besighede. Die sweet maak ‘n paadjie deur my hare en my oë begin traan.

Ek stop. Laat die venster sak. “Waar is nr. 6?,” vra ek twee werkers wat ywerig gat grawe op die sypaadjie.

“Nee, Madame, ons is nie van hier nie. Madame sal maar daar anderkant moet hoor,” deel die een man raad uit.

Ek ry aan. Skakel die persoon wat ek moet sien en sy stuur vir my ‘n “live location”.

Ek druk die knoppie en die Tannie van Google Maps trek weer los met haar links voor en regs daar, maar duidelik verstaan sy niks van die Vrystaat nie en ek kan omtrent net die teater sonder bystand in Sasolburg kry.

Eindelaas beland ek êrens agter die teater in ‘n wegneemplek se parkeerarea. Ek skakel weer.

“Nee,” seg die vrou, “draai om, dan ry jy weer met die dubbelstraat terug. Draai net na KFC.”

“Okay,” sê ek en draai om. Dubbelpaaie loop in alle rigtings, maar ek hoop ek is in die regte een. Sy het ook iets gesê van die swembad. Ek ken net een swembad in die dorp en die sit anderkant toe.

Ek oorweeg dit sterk om net voet in die hoek te sit terug Vanderbijl toe. Weer stuur die vrou ‘n “live location”.

Ek trek skouers op en ry maar weer soos wat Tannie Google my beveel. Jou wraggies waar! Ek kom tot stilstand vlak duskant waar ek goed ‘n halfuur vroeër gestop het.

Die vrou staan buite. “Ek dog jy het gesê jul bly in ‘n huis,” teken ek beswaar aan oor ek net winkels en besighede sien. “Die huis is aan die winkel vas,” antwoord sy geduldig.

Daaraan het ek nie gedink nie, maar daai straat kan gerus maar nommers op hul heinings verf.

Dit het ook nie gehelp toe ek na die onderhoud my knie nerfaf stamp teen die stuurwiel met die inklimslag nie.

Die volgende dag is ek by ‘n funksie van die sakekamer. Vriendin Jackie vertel hoe sy die vorige middag net nie ‘n betrokke straat in Sasolburg kon kry nie.

Tannie Google het vir haar al in sirkels laat ry, totdat sy eindelaas die kliënt gebel het en die haar man gestuur het om Jackie tot by die huis te vergesel.

Nou wonder ek…. Is dit omdat Tannie Google Engels is? Is Sasolburg moeilik uitgelê?

Was die maan, son en planete bietjie van koers af, of is dit regtig net blote toeval dat twee redelik intelligente dames albei op een middag sirkels in Sasolburg ry?

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button