Local newsNewsNews

Oorlog teen dwelms, nie verslaafdes nie

Maak nader kennis met die vrou wat 'n ma is vir jong dwelmverslaafdes en net wil help. Lees meer...

SASOLBURG. – Christina Delport se hart klop warm vir kinders met dwelmprobleme.

Sy het vir jare ‘n huis van veiligheid bedryf waar sy dwelmverslaafde tieners gehelp het om hul verslawing te oorkom en hul ‘n tweede en selfs derde kans op die lewe gegun het.

As ‘n gekwalifiseerde kapelaan van die Substance Abuse Addiction & Recovery of SA (SAAR) het Christina en haar gesin ‘n huis van veiligheid bestuur waar tienerseuns gehelp is.

Sy het ongelukkig geen staatsubsidie ontvang nie en het alles uit eie sak en met donasies betaal. In hierdie jaar moes hulle die huis, wat hulle op ‘n kleinhoewe gehuur het, opgee weens finansiële omstandighede.

Sy en haar gesin woon nou by haar moeder in Sasolburg. Haar deur is egter steeds oop vir haar “kinders”.

“Elkeen wat ek oor die jare gehelp het, voel soos my eie. Baie van hulle maak nog gereeld hier ‘n draai, selfs al het die Huis van Veiligheid toegemaak,” vertel sy.

Een van die jongmanne op wie se lewe sy ‘n blywende, positiewe impak gehad het, is André Matthee.

“Ek is nou al meer as ‘n jaar en ‘n half skoon,” vertel hy. André was 15 toe sy oupa oorlede is.

“Ek het met dagga begin en was onder die invloed van verkeerde vriende. Nadat my oupa oorlede is, het dit my getrigger en ek het sterker dwelms misbruik.”

Hy het erge depressie gehad en wou selfmoord pleeg. “In Februarie 2022 het ek heeltemal kop verloor en het selfs vir ‘n week in die tronk beland,” vertel hy.

Daarna het hy by Christina se huis van veiligheid uitgekom en dit het sy lewe verander.

Christina is baie trots op hom en elke ander jongmens wat die oorlog teen dwelms aanvat en oorwin.

“Ek wil net help. Ek glo daaraan om hul vryheid binne grense te gee. Liefde. Weer vir hul te wys wat waardes is en hul te leer om te kommunikeer,” vertel Christina.

Sy wil bitter graag haar bediening voortsit. Op die oomblik sal sy nie dadelik weer ‘n huis van veiligheid kan oopmaak nie, maar sy droom wel daarvan om ‘n buitepasiëntfasiliteit te begin waar dwelmafhanklikes deur die dag bygestaan kan word.

Daarvoor sal sy egter fondse benodig. Indien enige persoon of besigheid Christina wil help in haar oorlog teen dwelms om die jongmense se lewens te verander, kontak haar by 071 648 8180.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button