Local newsNews

Stefan Enslin, bekroonde filmmaker uit die Vaal, skitter op suksesleer

Het jy geweet dié alsydige Suid-Afrikaanse filmmaker, draaiboekskrywer en regisseur het sy eerste asemteug in Vanderbijlpark geneem?

 

 

Stefan Enslin is ‘n veelsydige storieverteller wat sedert 2011 in die vermaaklikheidsbedryf werk. Hy kan reeds met ’n indrukwekkende lys suksesvolle rolprente op sy kerfstok spog en is veral bekend vir flieks soos Strikdas, Nul Is Nie Niks Nie, Liewe Kersfeesvader and Klein Karoo.

Verder was hy ook een van die skrywers op die gewilde kykNET-sepie, Getroud Met Rugby, en het hy gewerk as lynvervaardiger vir ’n Emmy-bekroonde dokumentêr op CNN. Op Soek na Reënboë, ’n kykNET-storiefilm wat hy geskryf en vervaardig het, is in 2022 vrygestel.

Stefan se eerste roman, Verskietende Ster, is in 2013 gepubliseer, met die rolprentweergawe wat in 2015 gevolg het. Dit het die Gehoorgunsteling-toekenning by die gesogte Silwerskermfees gewen. Sy tweede roman, Tweede Kanse, is in 2018 gepubliseer en hy werk tans aan ’n nuwe boek wat gebaseer is op Op Soek na Reënboë – saam met die gewilde plaaslike skrywer Maretha Maartens.

Stefan Enslin.

Stefan hoop om vanjaar twee Goue Horings by sy arsenaal van prestasies te voeg nadat hy in Augustus vir twee Suid-Afrikaanse Film- en Televisie-toekennings (SAFTAS) genomineer is.
Sy dokumentêr, War Dogs and I, wat die aangrypende verhaal vertel van Kobus Olivier, wat geweier het om sy vier honde agter te laat toe die oorlog in Oekraïne uitgebreek het, is genomineer vir die Beste Dokumentêre Vollengte Speelfilm, terwyl die inspirerende Against All Odds: The Alwyn Uys Story, genomineer is vir die Beste Kinematografie Dokumentêre Vollengte Speelfilm.
Die SAFTAS word jaarliks gehou om die kreatiwiteit, kwaliteit en uitnemendheid van Suid-Afrikaanse film- en televisie-talent en produksies te vier en te eer, en die wenners vir 2023 sal op 30 September by Sun City aangekondig word.

Bykomend tot hierdie dokumentêre was hy ook die vervaardiger en regisseur van Unstoppable: The Rebecca Nagel Story. Hy is tans besig met verskeie ander projekte, insluitend The Heat oor die wêreldbekende weltergewigbokskampioen Chris van Heerden, ’n film oor ’n vark Pigcasso wat skilder, en ’n dokumentêr oor Jacques Freitag.

Stefan is ’n passievolle en gedrewe filmmaker en storieverteller met ’n hart vir mense en ’n begeerte om hulle hul lewens ten volle te sien leef. Hy het aanvanklik teologie aan die Universiteit van die Vrystaat gestudeer, maar het spoedig besef dat hierdie veld nie vir hom is nie. Daarna het hy oorgeskuif na argitektuur, maar het uiteindelik sy graad in stads- en streekbeplanning aan die Noordwes-Universiteit behaal. In 2011 het hy sy loopbaan as ’n stads- en streekbeplanner opgegee om sy droom om stories te vertel, te verwesenlik.

Hoewel sy reis sover nie sonder struikelblokke was nie, was dit beslis die moeite werd. Elke uitdaging het uiteindelik tot sukses gelei, en vandag sluit Stefan se top vyf loopbaanhoogtepunte tot dusver die uitgee van sy eerste boek, die maak van sy eerste rolprent, die wen van die Gehoorgunsteling-toekenning by die Silwerskermfees, die vervaardiging van ’n rolprent saam met die legendariese Suid-Afrikaanse akteur Regardt van den Bergh, en die benoeming vir twee SAFTAS in.
As rolprentmaker, het hy groot bewondering vir die legendariese Steven Spielberg wat aanhou om puik rolprente te maak na meer as 50 jaar in die bedryf en, volgens hom, ’n bewys is dat jy nooit te oud is om jou drome te verwesenlik nie.

Met so ’n besige skedule erken Stefan dat hy dit moeilik vind om af te skakel. “Wanneer ek nie op die stel is nie, is ek besig met navorsing vir ’n nuwe dokumentêr of draaiboek.” Hy bied ook ’n aanlyn draaiboekskryfkursus aan om aspirantskrywers te help.

As daar een ding is wat die vele uitdagings op sy pad hom geleer het, is dat jy jou vrese moet oorkom om jou drome ’n realiteit te maak. Vandag is hy gemaklik in die onderskeie rolle waarin hy homself bevind en hou hy aan om die stories te vertel wat hy voel mense moet hoor.

“Ek wil regtig net doen en gaan waar die Here my lei. En wat ook al Sy droom vir my is wil ek gehoorsaam aan wees. Maar ek besef dat dit nie beteken ek mag stilsit nie. So ek beweeg en kan voel hoe Sy hand die leiding bied,” sê hy.

 

Stefan Enslin antwoord Vaalweekblad se vrae:

Wat motiveer jou?
Ongetwyfeld my familie. As ek na hulle kyk wil alles in my seker maak hulle is veilig, gesond en gelukkig. Ek kyk ook telkemale na my twee dogters as hulle slaap en dan dink ek: “Ek wil altyd hulle held bly, so ek moet elke dag streef en leef om dit te verseker.”

Wat is jou familiewaardes?
1. Liefde, want dit is die fondasie vir ‘n sterk gesin.
2. Respek, aangesien dit help om ander te waardeer.

Blitsfeite oor Stefan:
Wie is die belangrikste persoon in jou lewe? * Jesus Christus
Wat is jou gusteling Afrikaanse film? * Paljas
Waar sal jy graag wil aftree eendag? * Enige plekkie waar dit stil en rustig is
Wat is jou gunsteling kos om te eet? * ‘n Bord gekookte boerekos
Wat is iets wat jy elke dag saam jou dra maak nie saak waar jy gaan nie? * Ongelukkig my selfoon

1. Horrors of komedies? * Komedies
2. Pizza of pasta? * Pasta
3. Slaap ‘n bietjie later of eet ‘n bietjie meer? * Slaap ‘n bietjie later
4. Bos of see? * Bos
5. Rugby of krieket? * Rugby

Stefan Enslin.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button