Mardo Foto’s het rede vir ‘n dubbele viering!
Die onderneming is vanjaar 55 jaar oud, en direkteur Beenke Douwenga vier sy 75ste lewensjaar
As jy die afgelope 55 jaar in die Vaaldriehoek skoolgegaan het, is die kanse goed dat jy nog iewers in jou kaste ‘n haasbekkiefoto van jouself in jou nuwe grootskool-klere sal koester. En as jy mooi kyk, sal jy waarskynlik die trotse kenteken van Mardo Foto’s op jou kleinood sien.
Mardo Foto’s vier vanjaar sy 55 bestaanjaar. Dit is in 1968 deur die toegewyde entrepreneursegpaar Andries en Ina Douwenga in Sasolburg begin – net betyds om in die Vaaldriehoek se ongekende uitbreiding en blomtydperk te deel. Die Douwengas se drie seuns, Beenke, Adriaan and Sjoerd, het mettertyd by hul ouers aangesluit en saam-saam het hulle die familiesaak uitgebou tot ‘n vooruitstrewende en hoogs gerespekteerde fotografie-onderneming.
Mardo Foto’s was van die begin af op die voorpunt van alles wat nuut was in fotografie. In die 1970s was hulle pioeniers op die gebied van kleurfotodrukwerk, want kleurlaboratoriums was in daardie tyd nog heel uitsonderlik. Met die oorskakeling na digitale fotografie in die vroeë 2000s was die Douwengas weer eens leiers op hul gebied: Mardo Foto’s was die eerste onderneming in die omgewing om digitale druktoerusting bekend te stel. Moderne videografie is intussen ook by hul talle ander dienste gevoeg.
Mardo’s se grondleggers, Andries en Ina, is nou reeds lank oorlede, maar die familiesaak word nog met dieselfde klem op goeie diens, ‘n strewe na perfeksie, outydse waardes en integriteit deur die drie Douwenga-broers en hul gesinne voortgesit. En in ‘n vinnig veranderende wêreld doen hulle moeite om steeds voorlopers op die gebied van nuwe tegnologie en die benutting daarvan te bly.

Buiten dat Mardo Foto’s se 55 jaar van sukses op 1 September vanjaar met ‘n genotvolle familie- en personeelbyeenkoms gevier is, was daar ook rede vir ‘n tweede viering: Beenke, die oudste broer, het op 6 November sy 75ste verjaardag gevier. Hy is in 1948 in Aliwal-Noord in die Oos-Kaap gebore en het mettertyd saam met sy ouers Vrystaat toe verhuis. Nadat hy in Heilbron gematrikuleer het en sy diensplig en studies afgehandel was, is hy Kaapstad toe vir ‘n loopbaan as rekenmeester by Sanlam. Dit is hier waar hy sy toekomstige vrou, Carina, ontmoet het. Dit was egter nie lank nie of Mardo Foto’s het so uitgebrei dat hy sy ouers moes kom help om ook ‘n tak in Vanderbijlpark te open.
Beenke en Carina is in 1971 getroud en het uiteindelik die ouers van Maryke, André en Lindi geword. Vandag is hulle die trotse grootouers van sewe pragtige kleinkinders.
Na meer as vyf dekades se betrokkenheid by Mardo Foto’s is dit duidelik dat Beenke nog net soveel genot uit fotografie en sy dag-tot-dag verpligtinge put as in die beginjare, ongeag of hy besig is met syfersake of self agter die kameras inskuif vir skoolfoto’s, gradeplegtighede, troues of industriële foto’s.

Om 75 te word is vir hom net ‘n getal. Van ouer word is hier nog geen sprake nie. Hy werk steeds sy-aan-sy met sy twee broers wat net soos hy, sterk pilare is wat die besigheid al dekades lank met kundigheid, diensbaarheid en hoë werksetiek help dra.
Sy passie vir Mardo Foto’s sal sekerlik so lank as wat hy leef, warm deur sy are en in sy hart bly pols, hoewel hy beoog om dalk eendag ‘n bietjie rustiger te begin leef… meer met die woonwa te toer, meer by die kinders en kleinkinders te kuier en ‘n paar meer blaaie van ‘n storieboek te lees.
Beenke bedank graag die publiek, skole, kleuterskole, tersiêre inrigtings, sakeonderneming, nywerhede, familie, vriende en veral elke enkele Mardo Foto-werknemer, teenswoordig sowel as in die verlede, wat bygedra het om die onderneming te laat blom.
“Ek is so dankbaar vir almal se ondersteuning aan ons onderneming. Dankie dat julle ons gehelp het om my en my familie se drome te laat groei en ‘n werklikheid te maak. Julle ondersteuning en lojaliteit was instrumenteel in ons sukses en ek, tesame met my broers en ander familielede, sou dit nooit sonder julle kon doen nie. Jul lojaliteit en vertroue in ons handelsmerk was nog altyd van onskatbare waarde en ek is ewig dankbaar daarvoor. Ek voel geseënd om deel te wees van die Mardo-familie en selfs meer geseënd om my 75ste verjaardag op ‘n gesonde, gelukkige en wonderlike manier te kon vier,” sê Beenke.


