Danté Chan Christensentrum vier 12 jaar van hulp aan mense in nood
Die sentrum is daagliks tussen 07:30 en 12:00 oop vir almal wat kos of klere benodig, of vir mense wat graag ‘n donasie wil aflewer of net wil kom kyk na wat hier gedoen word.
VANDERBILPARK. – Die Dante Chan Christen Sentrum, ‘n nie-winsgewende organisasie, het op 1 Julie sy 12de bestaansjaar gevier.
Die sentrum is oorspronklik in ‘n klein winkeltjie in die ou woonbuurt wat onder baie as “Porra Valley” bekendstaan, deur kaptein Alwyn Wilken en sy vrou Trudie begin. Hoewel die sentrum deur die jare ‘n paar keer in die ou woonbuurt verskuif het, het dit in Januarie vanjaar na ‘n nuwe perseel in Livingstone-boulevard 51, Vanderbijlpark verhuis.
Die perseel is naby die sakekern en is nou meer toeganklik vir almal wat die sentrum wil ondersteun of van die dienste afhanklik is.
Die Dante Chan Christen Sentrum bied die afgelope 12 jaar die volgende dienste aan:
• ‘n Sopkombuis waar daar vir tot 300 mense per dag, Maandae tot Vrydae, om 10:00 soggens ‘n ete voorsien word.
• ‘n Klerebank waar daar Vrydae tussen 07:30 en 08:30 klere, linne en ander benodigdhede voorsien word aan hulpbehoewende volwassenes en kinders.
• Die sentrum beskik oor ‘n buitestort vir mense wat op straat woon en nie toegang tot wasgeriewe het nie.
• Die sentrum het ook ‘n volledigtoegeruste kerk met ‘n erediens en Sondagskool, Sondae om 09:30.
Die sentrum is ingeskakel by alle plaaslike welsynorganisasies, NWO’s en kerke, maar verskaf ongelukkig nie kospakkies nie, kan nie etes of klerasie aflewer nie en bied ook nie huisvesting aan nie.
Buiten vir die nuwe perseel in Livingstone-boulevard het die sentrum ook ‘n tweede woning bekom, wat as ‘n huis van veiligheid vir kinders dien. Dit staan bekend as Kasa Kaé (Huis van Danté) en word met die hulp van Vanderbijlpark se Kinderwelsyn bedryf.
“Met die land se swak ekonomie en besighede wat swaar trek, word armoede daagliks ‘n groter krisis. Meer mense as ooit tevore besoek die sentrum vir klere en iets om te eet,” sê kaptein Wilken.
“Om in die groeiende behoefte te voorsien benodig die sentrum daagliks goeie gebruikte klere vir mans, vroue en kinders, komberse, skoonmaakmiddels, toiletware, nie-bederfbare voedsel, meel, pasta, reis, soppoeiers en soortgelyke produkte. Ons benodig ook bruikbare speelgoed wat ons aan die einde van elke jaar aan kinders uitdeel tydens ‘n Kersboomgeleentheid. Ons benodig ook kontantdonasies om salarisse, krag en erfbelasting te betaal vir albei die persele,” sê hy.
‘n Verdere behoefte waaraan die sentrum graag wil voldoen, is om ‘n oplosssing te vind waar ‘weggooibabas’ gelaat kan word. Tans kan sulke babas tydens kantoor-ure ontvang word, maar na ure is dit ‘n probleem.
Die sentrum is daagliks tussen 07:30 en 12:00 oop vir almal wat kos of klere benodig, of vir mense wat graag ‘n donasie wil aflewer of net wil kom kyk na wat hier gedoen word.
Vir meer besonderhede kan Alwyn geskakel word by 074 1716503. Mense wat graag ‘n geldelike donasie wil gee, kan dit inbetaal by Standard Bank, Dante Chan, Rekeningnommer: 10148677965 (Current), Takkode 7654.

