Local newsNews

Trane rol oor gesteelde skilpad – en toe kom die goeie nuus!

Whitey, die skilpad, is weer veilig terug by sy mense.

 

OPDATERING: Talle Facebook-lesers het verlede week Vaalweekblad se plasing van ‘n video gedeel waarop gesien kon word hoe ‘n skilpad oor ‘n palissadeheining getel word en die dief met hom wegstap. Die goeie nuus is dat die skilpad gevind en met sy eienaars herenig is! Lees die berig wat in hierdie week se Vaalweekblad verskyn het, met ‘n volledige opdatering onder-aan….

Beloning van R1 000 vir gesteelde skilpad

VANDERBIJLPARK. – “Ons slaap nie. Ons huil net die hele tyd.” So sê prof. Riana van der Bank van SW5 nadat die gesin se geliefde skilpad, Whitey, verlede Saterdag uit hul erf gesteel is.
Whitey was sowat 35 jaar deel van die gesin nadat hy as ‘n jong skilpad uit ‘n brand op hul familieplaas in Limpopo gered is. Sy dop was destyds wit verbrand, vandaar die naam Whitey. Ondanks dié trauma het hy mooi herstel.

Die gesin was verlede Saterdag tuis maar het nie gehoor toe ‘n dief vir Whitey deur die palissade nadertrek en oorlig nie. Dit was eers die volgende oggend toe hulle soos gebruiklik vir Whitey wou gaan more sê dat hulle besef het hy is weg.

Hulle het vermoed hy is dalk gesteel en het na die vorige dag se video-opnames van hul sekuriteitskamera gaan kyk. Dit was tóé dat hulle met skok op die video afkom waar duidelik gesien kan word hoe die dief hul skilpad in ‘n kwessie van twee minute uit die erf steel.

Hoewel die Van der Banks ook twee katte en ‘n papegaai het, is Whitey duidelik besonder na aan die gesinslede se harte. “Ons skerts altyd dat hy net Woolworths-kos eet… ‘n ferm tamatie en vars blaarslaai, maar hy is ook lief vir woenstynrosies en turksvyblare,” sê Marjoné van der Bank.
* Die gesin bied ‘n beloning van R1 000 aan vir die een wat Whitey aan hulle kan terugbesorg. “Ons sal die beloning dadelik betaal en geen vrae vra nie. Ons wil net ons skilpad veilig terughê,” sê die Van der Banks.

OPDATERING: Herman Crause, wie se pa ‘n “Tuc Shop” in CW6 bedryf, sê ‘n man het verlede Sondag met die skilpad by hul winkel opgedaag. Hy wou R400 vir hom hê. Die Crauses het besef die skilpad sou veiliger by hulle wees en het maar die bedrag betaal. “Die skilpad was nie beseer nie maar was kwaad of ontsteld en het heeltyd geblaas. Hy het darem soms uit sy dop gekom om water te drink. Toe ons die Vaalweekblad-berig sien oor die mense wat hulle skilpad soek, het ons dadelik vermoed dat dit hulle s’n was,” sê hy.

By die Van der Banks se huis het die trane van vooraf gevloei toe Whitey uiteindelik tuis was – maar dié keer was dit trane van blydskap en dankbaarheid. “Whitey is veilig terug waar hy hoort. Baie dankie aan almal vir die ondersteuning en hulp om hom terug te kry. Ons is opreg dankbaar,” sê prof. Van der Bank.
Hoewel die Crauses net die bedrag wou terughê waarvoor hulle Whitey by die dief gekoop het, het die Van der Banks daarop aangedring dat hulle die volle beloning moes neem.

Foto’s onder: Skermgrepe van ‘n video wys hoe die dief vir Whitey nadersleep en oor die heining  tel

 

Whitey is die afgelope 35 jaar ‘n geliefde deel van die Van der Bank-huishouding in Vanderbijlpark.

 

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button