Vir ‘n ouerpaar om saam-saam kinders groot te maak, is geen maklike taak nie. Dis soveel erger as ‘n enkelma – sonder die hulp van ‘n man – haar tienerseuns goed probeer opvoed. Vaalweekblad het onlangs dié boodskap van ‘n enkelma op ons Facebook-groep geplaas, wat ‘n interessante debat uitgelok het.
Enkelma van die Vaaldriehoek skryf:
Graag wil ek vandag om hulp kom vra. Nie finansiële hulp nie maar hulp met my 15-jarige seun. Ek is ‘n enkelmamma wat sukkel met ‘n hardkoppige seun. Ek soek ‘n goeie, sterk manlike pastoor wat sal kan help. Ek het hom al probeer kerk toe vat maar hy hou nie van kerk toe gaan nie. Hy is lui, ongehoorsaam, ongeduldig en kort van draad. Ek is op die punt waar ek net wil opgee en hom los dat hy maak soos hy smaak. Maar watse ma doen dit aan haar eie kind? As daar iemand is wat weet van iemand wat ‘n enkelma sal help, sal dit opreg waardeer word.
Hier is van die antwoorde wat in die kommentaar-afdeling ontvang is:
Charmaine Kotze skryf:
Baie, baie sterkte. ‘n Mens moet bid sonder ophou. Die tieners van vandag word in ‘n ander era groot. Ouers en skole mag nie lyfstraf toedien nie. Dissipline en respek bestaan nie meer nie. Hulle het groot planne en al die antwoorde en wysheid en dink oumense weet niks. Tronke skrik hulle nie af nie. Hulle wil ook nie hard werk nie, ek sien dit gereeld, maar almal wil gou ryk word. Hulle besef nie die waarde van geld nie en waardeer niks! Dan word hulle groot en die skille val van hulle oë af, soms te laat. Dit is ‘n bitter moeilike situasie en ek bid vir al die ouers en tieners.
Mariana D. skryf:
Ouers help jul tienerkinders. Op daai ouderdom kan hulle baie maklik in verkeerde hande val, dan is dit verby en jou kind is dan met verkeerde dinge besig. Dié is nie tienerstreke soos party dit noem nie. Ons kinders word groot waar Satan soos ‘n brullende leeu loop om lewens en families te verwoes. Dis chaos daar buite. Ek weet van hopeloos te veel kinders wat dwelms gebruik. Baie word geboelie, is verward en die lewe druk hulle te gou ryp. Sterkte aan die mammas waar daar nie ‘n pa is wat die wil van die Vader kan uitvoer nie. Dis soveel moeiliker vir julle, want julle moet ‘n ma en ‘n pa wees.
Mary C. skryf:
Ek is/was enkelma van twee seuns. Dit was baie moeilik om hulle groot te maak. Die oudste was hoofseun op laer- en hoërskool. Hy het in meganiese ingenieurswese gaan studeer en werk nou vir Microsoft. Die jonger boet was hoofseun op hoërskool en is op die ouderdom van 28 nou ‘n dokter in Engeland. Hulle kom van ‘n gebroke huis sonder ‘n pa. Ek moes ma en pa wees, met baie liefde en dissipline in gelyke mate. Mammas, hoekom is julle so raadop. Seuns is baie lief vir hulle ma’s. Die pad is moeilik maar hou moed en hou jul drome. Aanhoudende aanvarding, liefde en dissipline was die vlieënde vlerke in ons geval. Mag julle elkeen geseënd wees.
