Dik rookwolke vorm na groot veldbrande in Vaal
Sommige boere van die omgewing het glo al hul weiveld verloor
Donker rookwolke het Sondagmiddag, 11 Augustus, oor dele van die Vaaldriehoek tot so ver as Fochville en Parys gehang. Dit was nadat boere se weiveld en algemene veldterrein in dié omgewings aan die brand geraak het.
Inwoners aan die suide van Vanderbilpark en oewerbewoners langs die Vaalrivier het die middag gerapporteer dat hul oë brand en dat hulle sukkel om asem te kry weens al die rook in die lug. Verkeer op die R54 (die Potchefstroom/Vereenigingpad) het by tye tot stilstand gekom omdat die rook motoriste se visie erg beperk het.
Volgens ‘n inwoner, mev. Jenny van der Walt, was daar die dag twee groot veldbrande in en om die Vaaldriehoek: Een tussen Sasolburg en Parys, en die ander tussen Vanderbijlpark en Fochville.
“Die rook het as gevolg van die wind versamel en ‘n groot, dik wolk veroorsaak. Mense wat na aan die R54-roete woon, sukkel om asem te kry,” het sy die aand laat weet. Baie boere in die omgewing het glo al hul weiveld weens die brande verloor.
Fotograaf June Harmse het die meegaande foto’s geneem terwyl sy met ‘n kragboot op die Vaalrivier naby Vanderbijlpark gevaar het. Die oorsaak van die brande is nog onbekend.


