NewsNews

Die oumagrootjie skrik nie vir hoogtes nie

Watwou te oud! Hierdie ouma sien nog kans vir baie avonture. Lees hier meer...

VANDERBIJLPARK – 18 Januarie het Ouma Lien Booysen, omring deur haar kinders en kleinkinders, ‘n droom bewaarheid toe sy ‘n tandem valskermsprong in Parys gedoen het.

Op 84 (sy word 85 in Mei) is sy die oudste persoon wat tot dusver by Skydive Parys gespring het.

Ouma Lien Booysen (84) en Thatch van Skydive Parys maak reg om te land. Foto’s verskaf deur Hannes van Wyk

Haar skoonseun, Hannes van Wyk van Vanderbijlpark, sê die aanloop tot die groot sprong kom al ‘n lang pad.

“My ma het so ‘n paar jaar gelede by my dogter, Yolandi Beyers gekla dat mense sê sy is te oud om te gaan toer. Wel, Yolandi het gereken dis sommer nonsens en sy en haar ouma is in 2022 Egipte toe.”

Tot op daardie stadium het Ouma Lien geglo sy is ‘n dogtertjie en dogtertjies dra rokkies, maar Yolandi het haar oortuig as sy wil kameel ry, dan sal sy ‘n kortbroek moet dra.

‘n Avontuurlustige familie. Van links is Thatch (Skydive Parys), Brendon Kellerman (agterkleinseun), Ben Kellerman (kleinseun), Ouma Lien Booysen, Caden Storm (agterkleinseun), Yolandi Beyers (kleindogter), en Hannes van Wyk (skoonseun).

Daardie eerste toer het die twee alles gedoen van kameel ry tot in die piramides rond geklim. ‘n Jaar later is Ouma Lien saam met Yolandi en haar man, Nelius Beyers, Thailand toe.

Ouma het al die avonture daar vreeslik geniet. Van net rustig sit en die omgewing bewonder wou sy niks weet nie. Op daardie toer het sy onder andere op ‘n zipline gegaan en valskermsweef gedoen.

“Van toe af wou sy “wing walk” doen waar sy op ‘n vliegtuig se vlerk kon stap,” vertel haar dogter Deidré. “My hart wou gaan staan, maar gelukkig kon sy nie so iets opspoor in Suid-Afrika nie. Dis toe wat sy op valskermspring besluit het.”

Met so avontuurlustige grootouma het drie van Ouma Lien se kleinkinders, twee agterkleinkinders en Hannes besluit hulle gaan saamspring.

Na die sprong kon Ouma Lien nie uitgepraat raak van hoe mooi en lekker dit vir haar was nie. Sy het net gewens hulle kon stadiger afkom grond toe, want sy wou langer in die lug bly.

Vir haar familie is sy ‘n groot inspirasie en hulle sit op hete kole om te hoor watter avontuur Ouma volgende gaan aanpak.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button