Liefdevolle ouma en sakevrou sterf na kort siekte
Wyle Marie en Gerhard Schuhknecht het Park Panelbeaters in 1967 begin en dit in die volgende vyf dekades saam met hul kinders uitgebou tot een van die beste in die bedryf in Suid-Afrika.
VANDERBIJLPARK. – Mev. Marie Schuhknecht, wat die bekende Park Panelbeaters tot ‘n spogsaak saam met haar man Gerhard opgebou het, is op 7 Maart na ‘n siekte van sowat twee maande oorlede.
“Ons familie het nog op 19 Desember verlede jaar haar 80ste verjaarsdag saam met haar gevier en sy het gesond voorgekom. Oujaarsdag het sy gesê sy voel moeg en wou nie opstaan nie. Sy is in die hospitaal opgeneem en met akute bloedkanker gediagnoseer, waarteen sy moedig vir sowat agt weke geveg het,” sê haar skoondogter, Louise Schuhknecht. Marie het haar stryd op 7 Maart in Mediclinic Vereeniging verloor.
Sy is in 1944 in Rustenburg gebore en het na haar en Gerhard se huwelik in 1962, na Vanderbijlpark verhuis. Na baie toewyding en harde werk het die egpaar mettertyd genoeg geld gespaar om hul eie duikklop-onderneming in Vanderbijlpark te begin. Park Panelbeaters se deure het op 1 November 1967 in Cartwrightstraat geopen. Die onderneming het in die opvolgende 58 jaar tot een van die beste van sy soort ontwikkel en is deur die jare met verskeie nasionale toptoekennings beloon. Marie was deurgaans haar man se regterhand in die onderneming, tot met hul aftrede sowat agt jaar gelede. Park Panelbeaters floreer steeds as ‘n goedevestige familiesaak.
Drie kinders is uit Gerhard en Marie se huwelik gebore: Karl, Antonette en Anton. Al drie het reeds kort na skool by die onderneming betrokke geraak om hul ouers se droom te laat voortleef. Antonette is in 2009 oorlede, maar albei seuns, hul vroue, Louise en Michelle, en kleinseuns Heinrich en Reinard is steeds aktief by die onderneming betrokke. Die Schuhknechts het in 2023 deur groot hartseer gegaan toe Gerhard in die ouderdom van 85 onverwags weens ‘n aneurisme beswyk het.
Louise beskryf haar skoonmoeder as iemand wat haarself te na sou kom om ander mense te help. “En as sy geweet het jy hou van iets, sou sy sorg dat jy in oormaat daarvan kry. Ons sal haar veral onthou vir haar vrygewigheid en liefde vir haar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders. Sy was baie lief vir tuinmaak en het in elkeen van ons kinders en kleinkinders se tuine asook in die AGS Dinamika se kerktuin ‘n stilsit-plekkie gemaak vir wanneer mens alleentyd met die Here wou hê.”
Marie word buiten haar seuns en skoondogters oorleef deur drie kleinseuns, drie kleindogters, hul metgeselle en nege agterkleinkinders. Haar troosdiens is verlede Vrydag by AGS Dinamika gehou.

