News

Seldsame kanker eis bekende oudwerknemer van Infrachem

"Ons sal hom onthou vir sy liefde vir die Here en sy hardwerkendheid, en as 'n man wat altyd 'n plan gemaak het."

 

VANDERBIJLPARK. – ‘n Bekende oudwerknemer van Infrachem, mnr. Marius Kriel (75), het voorverlede Saterdag in Cormed-Hospitaal beswyk nadat hy sowat ‘n maand tevore met ‘n seldsame soort kanker gediagnoseer is. Volgens sy vrou, Elmarie, was dit ‘n vinnigverspreidende en relatief onbekende tipe kanker.

Marius is op 16 September 1949 in Bloemfontein gebore en het op 2-jarige ouderdom saam met sy ouers na Vanderbijlpark verhuis, waar hy sy lewe lank gewoon het. Dié oudleerling van die Hoërskool Vanderbijlpark het na skool in bankwese en ekonomie aan die NWU-Vaal (destyds bekend as die VaalPukke) studeer. ⁠As werknemer van Sasol Infrachem was Marius in beheer van die onderneming se instandhouding, behuising en kontrakte. Hy was ook deel van die span wat die behuising in Secunda begin het toe die dorp tot stand gebring is.

Hoewel familielede en vriende Marius sal onthou vir sy humorsin en spitsvondige sêgoed, was hy ook ‘n diep denker en besonder veelsydige mens wat in sy vrye tyd geskilder het, kortverhale en gedigte geskryf en graag gelees het. Hy was ‘n ywerige versamelaar van seëls en geldeenhede en het ook graag selfdoenprojekte in en om die huis aangepak.

“Marius was baie beskermend teenoor almal vir wie hy lief was. Hy was iemand wat jy kon vertrou, baie eerlik, ‘n ware gentleman, en ‘n vriend om op staat te maak. Hy kon soms humeurig en kwaai wees, maar gou weer alles vergeet en vergewe,” sê sy vrou, Elmarie. “Ons sal hom ook onthou vir sy liefde vir die Here en sy hardwerkendheid, en as ‘n man wat altyd ‘n plan gemaak het.”

Hy word buiten Elmarie oorleef deur hul dogters, Elizabeth Kriel, René Kriel en Marissa Beytell, en vyf kleinkinders van wie die oudste 20 jaar en die jongste 2 jaar oud is.
Sy troosdiens is Donderdag (20 Maart) by die NG Kerk Tuinedal in Sasolburg gehou.

Wyle mnr. Marius Kriel.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button