News

Bossie se kalmte by ongelukke gaan baie gemis word

Insleepdienste gaan Sondagmiddag 'n massarit in Vanderbijlpark hou om hulde aan Bossie te bring.

 

VADERBIJLPARK. – Vir dekades lank was die legendariese insleper, Johan (Bossie) Strydom, die aangewese steunpilaar om te kontak in geval van ‘n voertuigongeluk of karprobleme op Vaaldriehoekse paaie. Met sy raakvatter-hande was hy ‘n stille krag op ongelukstonele, waar sy blote teenwoordigheid kalmte kon bring. Maar Bossie (60) gaan nooit weer sleep nie. Hy is op 17 Maart onverwags oorlede.

“Hy was die liefdevolste omgeemens met die grootste hart. ‘n Grapgat wat altyd gelag het en almal gehelp het. Ek sal altyd onthou dat hy my onvoorwaardelik liefgehad het,” sê sy verloofde, Susan de Beer.

Bossie is in Pietermaritzburg gebore en het in Kroonstand grootgeword, waarna hy Vloot toe is. Hy het sowat 35 jaar gelede Vaaldriehoek toe verhuis, waar hy vir Dorbyl gewerk het en onder andere ‘n shop steward en unieverteenwoordiger was. Hy het mettertyd by inslepe betrokke geraak – eers by duikklopondernemings en later in sy eie hoedanigheid.

“Hy was iemand wat altyd uitgekyk het vir sy medemens en altyd bereid was om te help, dag of nag. Ons sal sy sin vir humor altyd onthou – ‘n regte terggees. ‘n Man met baie trots en liefde vir sy kinders en kleinkinders,” sê sy dogter, Tanja.  Sy dogter Monique sê: “Pappa Bossie was vriende met almal en geliefd deur almal. Hy het ‘n mens altyd ekstra hard met die hand gegroet. Dit was kenmerkend aan ons pa.”

Vriende en familie onthou hom ook as ‘n man wat nooit kon stilsit nie. As hy nie besig was om te werk nie, sou jy hom vind waar hy besig was om te dans, te hengel, boot te ry, rugby te kyk, kos te maak of te kampeer.

Bossie word buiten Susan en haar seun Louis, oorleef deur sy kinders, Karel, Tanja, Karen, Angelique, Chantelle, Monique, sy kleinkinders en ‘n broer en susters. “Hy was ‘n baie besonderse mens en ‘n ikoon in baie se lewens. ‘n Man met ‘n goue hart,” sê sy kinders in ‘n gesamentlike verklaring.

Sy groetdiens is Woensdag, 26 Maart, by die NG Vaalrivier Gemeente gehou. Verskeie insleepdienste gaan Sondagmiddag ‘n massarit hou om hulde aan Bossie te bring. Belangstellendes kan om 14:00 by Checkers se parkeerterrein oorkant die Vanderbijlpark-vlooimark bymekaarkom, waar die roete bespreek sal word.

Wyle Bossie Strydom.
Bossie se insleepvoertuig en sleepwa waarmee hy talle motoriste na ongelukke of tydens teëspoed langs die pad bygestaan het.
Wanneer Bossie nie gewerk het nie, het hy graag tyd in sy boot of langs die viswaters deurgebring.
Bossie en sy verloofde, Susan de Beer. Hulle het beplan om later vanjaar in die huwelik te tree.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button