Boek van Vaaldriehoek-skrywer word dalk ‘n TV-reeks
'n Herdruk van wyle Johan Pretorius se boek, The Buy-out, het pas die lig gesien.
VANDERBIJLPARK. – Met die bekendstelling van die boek The Buy-out in 2020, het sommige resensente gereken die Vaaldriehoekse skrywer, Johan Pretorius, kon dalk ‘n nuwe Wilbur Smith word.
Johan se aksiebelaaide debuutroman is tot die laaste bladsy deur talle lesers verslind. Sy gemaklike skryfstyl en uitgebreide kennis van die ruwe Afrika-bos, sowel as die glas-en-chroom van internasionale sakebedrywighede het só beïndruk dat ‘n tweede druk onlangs verskyn het.
Ongelukkig kan Johan nie in die opwinding deel nie. Hy is op 13 Januarie 2023 oorlede, maar sy weduwee, Dalene, en hul kinders sien met genoegdoening uit na wat die toekoms vir die boek inhou. Daar is selfs sprake dat dit dalk in ‘n TV-reeks omskep kan word.
Johan, wat jarelank saam met sy gesin in Vanderbijlpark gewoon het, het in Steynsrus in die Vrystaat grootgeword, waar hy hoofseun van sy skool, sowel as tennis- en rugbykaptein was. In later jare het hy ‘n meestersgraad in Bedryfsekonomie aan die Universiteit van Pretoria verwerf en hy was ook ‘n geoktrooieerde sekretaris. Hy het deur die jare verskeie uitvoerende bestuursposisies in die korporatiewe wêreld beklee en was die laaste 10 jaar van sy professionele lewe as ‘n senior direkteur aan Technikon SA verbonde. Hy het The Buy-out eers na sy aftrede begin skryf.
Johan, Dalene en hul kinders, Charl, Jana, Liesl en Carli, se name is steeds bekend in die Vaaldriehoek se akademiese kringe en aldrie die drie dogters is vandag veeartse. Dié oudleerlinge van Hoërskool Transvalia was almal toppresteerders wie se uitmuntende prestasies steeds in die skool se pronkkaste pryk. Net soos wyle Johan, ken sy gesin die natuur en veral die Suid-Afrikaanse wildbedryf baie goed.
Dis daarom nie vreemd dat die intrige in The Buy-out die leser op gevaarlike situasies in die bosse van Suidelike Afrika saamsleur nie. Teen die agtergrond van besigheidskapings word ‘n internasionale sakekonsultant en eienaar van ‘n wildsplaas in Suid-Afrika gevra om die vermoede van ‘n vyandige oorname van ‘n sterk plaaslike maatskappy op die Johannesburgse Effektebeurs te ondersoek. Mark, die hoofkarakter, se speurwerk lei hom nie net deur die Afrika-wildernis nie, maar ook op ‘n indrukwekkende wipplankrit vol Franse flair in Europa – en as bonus is daar ook ‘n stomende romanse!
Binne die motief van jag en jagters word die verskil tussen leeus en wildehonde gou duidelik in die storielyn. Dit is nie net hul prooi nie, maar ook hul jagmetodes wat hemelsbreed verskil…
* The Buy-out is deur Corals Publishers uitgegee en kan by corals@worldonline.co.za of 074 215 8435 bestel word.


