‘Selfmoordsiekte’ maak ouma se lewe ondraaglik
Annatjie se familie het 'n veldtog op BackaBuddy van stapel gestuur in die hoop om genoeg geld in te samel vir haar noodsaaklike Gamma Knife-behandeling.
VANDERBIJLPARK. – Daar is ‘n rede waarom trigeminale neuralgie as “die selfmoordsiekte” bekendstaan. Dit is al beskryf as een van die pynlikste toestande waaraan ‘n mens kan ly. Die pyn kom voor in ‘n lyer se gesig en is so intens dat dit ‘n mens se hele lewe tot stilstand ruk. Die sangeres Anneli van Rooyen se musiekloopbaan is ‘n paar jaar gelede deur dié toestand verwoes.
Mev. Annatjie van Zyl (76) van Vanderbijlpark kan uit eie ervaring getuig van die vernietigende impak wat dit op alle terreine van ‘n mens se bestaan het. Sy is tien jaar gelede met die toestand gediagnoseer en leef sedertdien met toenemende intense pyn saam.
“Ouma Annatjie is ‘n ongelooflik sterk vrou maar dit raak nou ondraaglik. Die pyn neem haar hele menswees oor,” sê haar kleindogter, Cheriette Taljaard.
Die erge steekpyne wat voordurend soos elektriese skokke deur haar gesig skiet, tas haar spraak aan en veroorsaak dat sy nie behoorlik kan eet of drink nie. Boonop het sy geen eetlus nie.
Haar neurochirurg het deur ‘n MRI-skandering vasgestel dat sy erge trigeminale neuralgie in haar kakebeen het. Selfs die sterkste pynmedikasie bring min of geen verligting. Al wat in haar geval sal help, is ‘n sogenaamde Gamma Knife-prosedure, wat die pyn sal verlig en haar lewensgehalte sal verbeter. Haar dokter het ‘n motivering by haar mediese fonds ingedien met die hoop dat sy die operasie sou kon ondergaan, maar die aansoek is afgekeur. Annatjie sal die koste van sowat R280 000 uit haar eie sak moet betaal. Ongelukkig het nie sy óf haar familie die fondse om dit te kan bekostig nie. Buiten hierdie uitdagings ly sy ook aan chroniese obstruktiewe longsiekte (COPD) en is 24 uur per dag van suurstof afhanklik.
“My ma is die sterkste maar vriendelikste mens wat ek ken. Sy het haar hele lewe lank vir ander omgegee – as ‘n ma, ouma en vriendin. Sy het ons met soveel liefde en geduld grootgemaak. Sy verdien nie om haar laaste jare in soveel pyn deur te bring nie,” sê haar dogter, mev. Anneley Annandale. “Haar gesondheid is broos en die voortdurende pyn maak haar lewe ondraaglik. Dit breek my hart om te sien hoe haar gees stadig wegkwyn weens haar lyding.”
Hoewel trigeminale neuralgie op enige ouderdom kan toeslaan, tref dit gewoonlik mense ouer as 50 jaar. Na raming ly sowat 1 uit 20 000 mense hieraan en dit kom meer dikwels by vroue as mans voor.
Annatjie se familie het ‘n veldtog op BackaBuddy van stapel gestuur in die hoop om genoeg geld in te samel vir haar noodsaaklike Gamma Knife-behandeling. “Ons vra nederig vir enige bydrae – groot of klein. Enige skenking sal help om haar ondraaglike pyn te verlig en haar ‘n kans op ‘n beter lewe te gee. Die publiek se ondersteuning en gebede beteken die wêreld vir ons,” sê haar dogter.
* Mense wat ‘n bydrae wil maak, kan Annatjie se BackaBuddy-veldtog besoek (“Help My Mom Live Without Unbearable Pain”). Alternatiewelik kan ‘n direkte inbetaling gemaak word aan Anneley Annandale, Capitec spaarrekening: 1461996714.

