News

Geliefde oud-rektor sterf in sy slaap

Sy groetdiens word Donderdag, 10 April, om 10:00 by Derde Kruis Gemeente op die hoek van Piet Retief-boulevard en Prinsloostraat, Vanderbijlpark, gehou.

VANDERBIJLPARK. – Die voormalige kampusrektor van die Noordwes-Universiteit in die Vaaldriehoek (NWU Vaal), prof. Piet Prinsloo, is Dinsdagaand stil in sy slaap oorlede.
Hy het deur die jare nie net ‘n duidelike stempel op akademiese gebied afgedruk nie, maar so ook in die Vaaldriehoek se kultuurlewe, geskiedenis-optekening en stadsraadsake. Buiten sy betrokkenheid by die universiteit was hy in 1985 op die ouderdom van 36 Vanderbijlpark se jongste burgemeester ooit.

Prof. Prinsloo is op 27 Januarie 1949 in Rustenburg gebore en het in 1967 aan die Hoër Volkskool Heidelberg gematrikuleer. Hy het in 1970 ‘n BA-graad aan die destydse Potchefstroomse Universiteit (PU vir CHO) behaal en dit met verskeie nagraadse kwalifikasies, insluitend ‘n doktorsgraad, opgevolg.
Prof. Prinsloo het in 1977 as ‘n dosent by die Vaaldriehoekkampus van die PU vir CHO aangesluit en is op 1 April 1994 as waarnemende vise-rektor aangestel. ‘n Jaar later, op 1 Julie 1995, is hy as kampushoof aangewys terwyl hy ook vanaf April 2002 as vise-rektor: Akademie, en adjunkhoof van die PU vir CHO gedien het. Met die totstandkoming van die NWU in Januarie 2004, is prof. Prinsloo as rektor van die Vaaldriehoekkampus aangestel.

Vaalweekblad se redaksiespan was deur die jare bevoorreg om verskeie onderhoude met prof. Prinsloo te voer. Ons het hom leer ken as ‘n doelgerigte mens maar ook as iemand wat met nederigheid en stille oorredingsvermoë buite die kollig wou werk. Op dié manier het hy vele rolspelers wat ‘n positiewe bydrae in die Vaaldriehoek gemaak het, bymekaar gebring sonder dat hy ooit persoonlike erkenning daarvoor wou hê.

Sy geesdrif vir die akademie was van jongsaf opvallend. In 1995, toe hy die jongste vise-rektor ooit van die Vaaldriehoekkampus geword het, het hy reeds entoesiasties aan Vaalweekblad gesê: “Ons is besig om die ‘magic‘ in elke geleentheid op die kampus raak te vat”. Onder sy bekwame bestuur het die Vaaldriehoekkampus tussen die jare 2000 en 2004 ‘n toename van meer as 100% in studentegetalle getoon en verskeie groot kapitaalbefondsings beklink.

Hy het in daardie stadium gesê hy beskou dit as sy grootste uitdaging om etnisiteit op die kampus só te bestuur dat alle studente hul kultuur-eie kan behou en uitleef, terwyl hulle ook na gemeenskaplike doelwitte binne die NWU streef.

Prof Prinsloo het dikwels gesê dat sy vakgebied, Geskiedenis, beslis sy lewensbeskouing beïnvloed het. Hy het by geleentheid aan Vaalweekblad gesê: “Tswana-sprekers het ‘n uitdrukking: ‘Motho ke motho ka batho‘ – jy is ‘n mens deur ander mense. Al is hier mense wie se standpunte verskil, besef almal dat ons mekaar nodig het.” Dié uitdrukking het wyd neerslag gevind op die Vaaldriehoekkampus en vorm onteenseglik steeds ‘n basis waarop daar met groot sukses voortgebou word.

Prof. Prinsloo was reeds jare gelede ‘n groot voorstander van rekenaargesteunde afstandonderrig. Na sy mening sou die Vaaldriehoekkampus net kon oorleef as dit voortdurend aanpas en vernuwe. Sy ideaal dat die plaaslike kampus ‘n suksesvolle model vir tersiêre instellings landwyd moes wees, het in ‘n groot mate gerealiseer. Met sy aftrede in 2009 het gemeenskapsontwikkeling hom steeds na aan die hart gelê en hy het nog ‘n geruimte tyd voortgegaan om te help bou aan ‘n ontwikkelingsnetwerk vir die Vaaldriehoek.

Prof. Prinsloo word oorleef deur sy vrou, Wilna, hul drie kinders, Anita, Jané en Philip, skoonkinders en kleinkinders. “Ons is almal baie geskok oor sy skielike afsterwe, maar dankbaar vir die Vader se genade dat hy vreedsaam en rustig kon heengaan,” het Jané Woensdag gesê.
* Die groetdiens word Donderdag, 10 April, om 10:00 by Derde Kruis Gemeente op die hoek van Piet Retief-boulevard en Prinsloostraat, Vanderbijlpark, gehou.

Wyle prof. Piet Prinsloo.
Een van die talle berigte oor prof. Piet Prinsloo en die NWU-Vaal wat deur die jare in Vaalweekblad verskyn het.
Wyle prof. Piet Prinsloo

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button