News

Skattige ‘Wonderbaba’ vier 1ste verjaardag

Klein Amore van der Schyff behaal tot dusver al haar onwikkelingsmylpale en is vandag 'n gesonde en aktiewe baba.

 

MEYERTON. – Die Vaaldriehoek se Wonderbaba”, klein Amore van der Schyff, het verlede maand haar eerste verjaardag gevier en behaal tot dusver al haar onwikkelingsmylpale.
Haar ouers, Willem en Caroline van der Schyff, het jarelank gedink hulle sou nooit die voorreg van ouerskap smaak nie. Hoewel albei aan mediese toestande ly wat dit menslik gesproke byna onmoontlik sou maak, het hulle egter aanhou bid vir ‘n baba van hul eie. Op 1 Maart 2024 is hul wens onverwags bewaarheid met die geboorte van hul dogtertjie, Amore. Aangesien Caroline geen tekens van ‘n swangerskap getoon het nie en die egpaar nie geweet het dat ‘n kleinding op pad was nie, was hulle behoorlik onkant gevang.

Caroline en Willem het die betrokke dag van hul woning in Kookrus na Meyerton se sakesentrum gestap toe Caroline so 3 km van hul huis af onuithoudbare maagkrampe en rugpyn begin kry het. ‘n Begrafnisondernemer hoër op in die straat was bereid om Caroline huis toe te neem, onbewus daarvan dat sy in kraam was. Caroline het dit sélf nie eens besef nie. By die huis het sy op haar bed gaan lê en was net so verras soos haar ouma en Willem toe sy ‘n rukkie later geboorte aan ‘n volmaakte, voltermyn dogtertjie skenk. Die geskokte paartjie moes inderhaas reëlings tref dat ‘n nooddiens, Afri Guard, die naelstring kom afbind. Caroline en die baba is daarna na die Sebokeng-hospitaal vervoer, waar vasgestel is dat albei in ‘n uitstekende toestand was.

Wilem en Caroline het besluit om hul dogtertjie Amore Amanda te doop omdat dit onderskeidelik “Liefde” en “Geskenk van God” beteken. Nou een jaar oud, is dit duidelik dat die kleinding steeds die middelpunt van haar ouers en oumas se bestaan is.

Amore is nou ‘n gesonde, woelige baba wat goed kruip en haarself al met gemak teen haar kot begin optrek. Sy speel graag met haar pop en ander speelgoed, en slaap en eet ook goed. Sy kan al meeste soorte vastekos soos fyngemaakte vleis, pasta en suiwelprodukte eet, en soms word sy met ‘n stukkie sjokolade bederf. “Sy maak al oulike geluidjies en kan al Pappa en Mamma sê,” spog ‘n trotse Caroline.
Vir die Van der Schyffs is Amore ‘n lewende bewys dat wonderwerke nog gebeur. Sy is immers uit die Hemel afgebid, glo hulle.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button