Raaisel oor houtkissie met as bly ‘n geheim
"Laat die dooies met rus en gaan sit die kissie terug," was sommige lesers se raad.
VANDERBIJLPARK. – Navrae oor ‘n misterieuse houtkissie met ‘n oorledene se as, wat onlangs langs die Vaalrivier gevind is, het die afgelope weke soos ‘n veldbrand op Facebook en WhatsApp-groepe versprei.
Niemand weet presies waar of deur wie die kissie gevind is nie, maar getrou aan Vaaldriehoek-inwoners se aard, het hulle dadelik op sosiale media begin soek na die naasbestaandes van die oorledene, mnr. Christiaan Johannes Fouché. Volgens ‘n inskripsie op die netjiese kissie is hy op 23 September 1930 gebore en op 21 Junie 2015 oorlede. Mnr. Fouché was met sy dood dus 85 jaar oud.
Die boodskap waarin daar na die naasbestaandes gesoek is, is duisende kere op Facebook en WhatsApp-groepe gedeel. Terwyl belangstelling by die dag toegeneem het, het nuuskierige lesers onder mekaar begin bespiegel oor hoe die kissie in of langs die rivier kon beland het.
“Dalk was die Vaalrivier sy laaste keuse van ‘n rusplek en het dit met die jare uitgespoel,” het ‘n leser gespekuleer. “Dalk was hy ‘n hengelaar wat graag in of naby die rivier wou rus,” het nog een gereken.
“’n Gedenkmuur in Riversdal, Meyerton, is ‘n paar weke terug geplunder. Miskien kom dit van daar af,” was Facebook-leser Pieter van der Wath se raaiskoot. Sarie Liebenberg was van mening dat die kissie dalk tydens ‘n inbraak gesteel en toe in die rivier gegooi is.
Talle mense het gewaarsku dat die dooies met rus gelaat moet word en die kissie liewer teruggesit moet word waar dit gevind is. “Gaan plaas dit terug, sê net ‘n gebed en gun hom sy rus,” was Gail de Pontes se raad.
Verskeie lesers het Vaalweekblad die afgelope weke gevra om te probeer vasstel wat die ware verhaal agter die kissie se storie was. Ons kon daarin slaag om ‘n naasbestaande van die oorledene op te spoor, wat die kissie intussen teruggekry het. Hy het Vaalweekblad egter laat weet dat hy niks verder oor die voorval wou sê nie. Alles bly dus ‘n geheim, maar ons glo wyle mnr. Fouché gaan nou ‘n meer gepaste (en droër) finale rusplek kry.

Die houtkissie wat duisende lesers se verbeelding op sosiale media aangegryp het.
