News

Die Vaal én die Leeus verloor ‘n getroue steunpilaar

Wyle mnr. Frans Lamprecht, eienaar van Flame Gas, het 'n passie vir sy werk gehad en was baie trots op die onderneming se hoëgehalte diens. Hy was ook 'n vurige rugby-ondersteuner.

VANDERBIJLPARK. – Familie en vriende van mnr. Frans Lamprecht het Dinsdag hul laaste eer betoon aan dié bekende sakeman, nadat hy op 9 April oorlede is.

Wyle mnr. Lamprecht, eienaar van Flame Gas in Vanderbijlpark, was ‘n diabeteslyer wie se gesondheid vinnig verswak het nadat hy in Januarie ‘n beroerte gehad het. “Sy liggaam was net te swak om verder te baklei. Hy is verlede Woensdagoggend om 05:20 in Mediclinic Vereeniging oorlede,” sê me. Annelien Howden, woordvoerder namens die Lamprecht-gesin.

Mnr. Lamprecht is op 5 Junie 1962 in Johannesburg gebore maar het in Henley-on-Klip grootgeword en in Meyerton en Vereeniging skoolgegaan. Na voltooiing van sy vakleerlingskap as sweiser by Stuarts & Lloyds in Vereeniging, het hy ‘n geruime tyd by die destydse Yskor gewerk voordat hy in 1997 as ‘n gas-installeerder by Vaal Gas aangesluit het. In 2002 het hy sy eie onderneming, Flame Gas, in Vanderbijpark geopen en dit uitgebou tot ‘n florerende saak.

“Hy het ‘n passie vir sy werk gehad en was baie trots op die onderneming se hoëgehalte diens. Hy was ‘n man met ‘n groot hart wat goed was vir sy medemens,” sê Annelien.
Hy was baie lief vir sport en het as jongman ‘n bietjie geboks, maar dit was die afgelope jare veral rugby wat hom as toeskouer baie genot verskaf het. Hy was ‘n groot Leeus-ondersteuner en het deur die jare omtrent al die spelers persoonlik ontmoet.

Mnr. Lampbrecht word oorleef deur sy vrou, Lena, dogter Suzette du Plessis en seun Frans Lamprecht (jr.) sowel as sy stief- of “bonuskinders”, Sandra Martins, Derick en Deon van Rooyen, skoonkinders en 12 kleinkinders. Sy stiefseun wat saam met hom by Flame Gas gewerk het, Jaco van Rooyen, is reeds oorlede.
Mnr. Lamprecht se troosdiens is Dinsdag by die AGS Lewende Waters Gemeente in Vaalpark gehou.

Wyle mnr. Frans Lamprecht.
Wyle mnr. Frans Lamprecht.
Wyle mnr. Frans Lamprecht.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button