Adeline kry noodsaaklike operasie danksy skenkers
Hoewel mev. Elize du Plessis baie dankbaar is dat haar kind die nodige behandeling kon kry, is sy baie bekommerd oor kinderpasiënte wat steeds sonder behandeling in Kroonstad se staatshospitaal lê.
VANDERBIJLPARK. – Adeline du Plessis (7) en haar ouers se beker van dankbaarheid loop oor nadat sy verlede Woensdag ‘n dringende operasie in ‘n private hospitaal kon kry.
“Ons wil net baie dankie sê vir almal se hulp, liefde, ondersteuning en skenkings,” sê Adeline se ma, mev. Elize du Plessis.
Vaalweekblad het verlede maand berig dat Adeline, ‘n leerling van die Laerskool Eligwa in Vanderbijlpark, toe reeds twee weke sonder behandeling in ‘n staatshospitaal in Kroonstad gelê het. Sy moes ‘n noodsaaklike operasie kry nadat sy haar linkerarm op 15 Maart sleg gebreek het toe sy op ‘n trampolien gespring en geval het.
Die staatshospitaal kon weens verskeie redes, soos ‘n stukkende x-straalmasjien en ‘n gebrek aan chirurgiese penne, nie die nodige behandeling verskaf of die operasie uitvoer nie. Sy sou nog minstens ‘n maand op ‘n operasie moes wag en haar ouers het gevrees dat haar arm intussen verkeerd sou aangroei. Hulle het gehoop om haar na Vanderbijlpark te kon terugbring vir behandeling by ‘n private hospitaal, maar het nie die fondse daarvoor gehad nie.
Nadat ‘n berig oor Adeline se penarie in Vaalweekblad verskyn het, het donateurs flink begin bydrae en teen 8 April was meer as R15 000 al ingesamel. Danksy dié skenkings en tegemoetkomende medici kon die operasie verlede Woensdag by Cormed-hospitaal in Vanderbijlpark plaasvind. Dit is uitgevoer deur dr. Pieter Aucamp, bekende ortopediese chirurg met ‘n praktyk by Mediclinic Emfuleni.
“Die operasie het seepglad verloop en dr. Aucamp is baie tevrede met die arm. Lientjie sterk nou tuis aan en is nog afgeboek tot 22 April,” sê Elize. Die gesin het reëlings getref om die R3 000 wat nog uitstaande is vir Adeline se behandeling, af te betaal.
Hoewel Elize baie dankbaar is dat haar kind die nodige behandeling kon kry, is sy baie bekommerd oor kinders wat steeds sonder behandeling in Kroonstad se staatshospitaal lê. “Ons verneem dat een van die pasiëntjies wat saam met Adeline daar was, nou al sewe weke sonder behandeling daar lê. So, alles gaan nog maar dieselfde by die hospitaal,” sê sy.



