News

Kom kuier Werkersdag, 1 Mei, saam op die plaas!

Oud en jonk wat mal is oor die plaaslewe kan Donderdag saam kom kuier op die plaas Bosrand. Dis geleë in Midvaal se Goeiehoek-distrik.

 

Donderdag is Werkersdag – net die perfekte luilekker vakansiedag om op ‘n regte plaas deur te bring!
Kom ondersteun gerus die boere en plaasvroue van die Goeiehoek-omgewing in Midvaal, wanneer hulle op 1 Mei hul beste voetjies gaan voorsit met die heerlikste vars plaasprodukte soos groente, vleis, tuisgebak, konfyt, blatjang en vele meer. Tradisionele geregte soos pap en kaiings, skaapstertjies en afval is ook op die spyskaart.

Kom snuffel deur die groot verskeidenheid stalletjies waar handgemaakte artikels vir die huis, klerekas en tuin beskikbaar sal wees. Moet ook nie vergeet van die kunstige juwele en oudhede wat teen sakpaspryse te koop gaan wees nie. Bring gerus die kleinspan saam want hier wag hope lekker speletjies soos kettie-skiet!

* Roeteaanwysings: Die Goeiehoek Kontreimark word op die plaas Bosrand gehou, sowat 12 kilometer vanaf 4Way Motors in Drie Riviere. Padaanwysings: Neem die R42-roete van Vereeniging na Heidelberg. Draai rigting Goeiehoek by die Meyerton/Goeiehoek-kruising. Na 4 kilometer vanaf die kruising, draai regs in die syaansluiting, rigting Goeiehoek. Bosrand is die eerste plaas op linkerhand ná die syaansluiting.

Vir meer inligting, besoek die Goeiehoek Kontreimark se Facebook-blad hier: https://web.facebook.com/groups/1532068813745608

 

Besoekers kan heerlik tussen die verskillende stalletjies met interessante kunswerke, handgemaakte artikels en plaasprodukte ronddwaal. Bring genoeg geld saam en trek gemaklike skoene aan om lekker te kan stap.

Argieffoto: ‘n Paar van die stalletjies en besoekers tydens ‘n vorige boeremark in Goeiehoek.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button