News

Na vele terugslae vra Lionel net ‘n nuwe kunsoog

Asof die verlies van sy oog nie genoeg was nie, het Lionel in 2021 ook ses familielede aan Covid verloor.

SASOLBURG. – Op byna 13 lyk Lionel Bezuidenhout soos enige normale jong tiener. Min mense sou egter kon raai dat dié aantreklike knaap as baba teen ‘n lewensbedreigende siekte moes veg en ‘n oog verloor het.

Hy was maar ‘n seuntjie van 9 maande toe hy in 2012 met Retinablastoom, ‘n soort kanker van die oog, gediagnoseer is. Sy ouers was platgeslaan, maar nóg slegte nuus het gevolg: Sy linkerogie moes nege dae na die diagnose verwyder word.

“Lionel het intensiewe chemoterapie ondergaan en is in 2017 as ‘vyf-jaar-kankervry’ verklaar,” sê sy ma, Erika Bezuidenhout. “Hy het van sy eerste verjaardag af ‘n kunsoog begin dra. Dit is aanvanklik elke ses maande vervang en moet nou jaarliks vervang word.

“Omdat hy nog groei, moet sy kunsoog gereeld aangepas word om die skedel se beengroei te stimuleer, anders kan sy oogkas misvorm raak,” verduidelik sy.
Asof sy siekte en verlies van ‘n oog nie genoeg was nie, het nóg teëspoed die gesin in 2021 getref toe ses familielede, insluitend Lionel se pa, albei sy oupas, sy peetma, een van sy tannies en ‘n oom, oorlede is aan Covid.

Erika het as enigste broodwinner van haar en haar twee seuns agtergebly. Sy werk voltyds vir ‘n apteek in Parys en locum baie aande, naweke en openbare vakansiedae by ander apteke vir ‘n ekstra inkomste. Weens beperkte fondse moes sy haar en haar seuns se lidmaatskap aan ‘n private mediese fonds kanselleer en sy kon dit ook nie meer bekostig om Lionel in ‘n privaatskool te hou soos toe haar man nog geleef het nie. Omdat Lionel in daardie stadium ‘n leer-agterstand gehad het, wou geen hoofstroomskool in die omgewing hom inneem nie. Die hoof van die Laerskool Lumière in Vaalpark het egter ingestem om hom ‘n kans te gee. Lionel was vir drie kwartale in ‘n LSEN-klas vir kinders met leergestremdhede maar het so goed presteer dat hy na ‘n gewone klas oorgeplaas kon word. Hy is nou in Graad 5 by Lumière en sy ma het net lof vir die skool. Hoewel hy ‘n leesbril moet gebruik om sy funksionerende regteroog te ondersteun, gaan dit akademies goed, en hy is mal oor skaak en landloop.

Die grootste uitdaging is om nou genoeg geld bymekaar te maak vir ‘n nuwe, noodsaaklike oogprostese, wat sowat R40 000 gaan kos. Ondanks die lang en ekstra ure wat Erika insit om ekstra geld te verdien, is daar eenvoudig nie genoeg om self daarvoor te betaal nie. Mense wat Lionel graag wil ondersteun met ‘n skenking, kan sy BackaBuddy-projek besoek by https://www.backabuddy.co.za/campaign/our-little-hero-lionels-prosthetic-eye. ‘n Direkte inbetaling kan ook gedoen word aan E. Geyer, TymeBank, Tjekrekening: 51117963462, Takkode: 678910, Verwysing: Lionel.

Lionel Bezuidenhout
Lionel Bezuidenhout, wat sy linkeroog weens kanker verloor het en dringend ‘n nuwe kunsoog benodig.
Lionel as sesjarige seuntjie in 2018, tydens ‘n passing van sy destydse kunsoog.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button