Geliefde oud-leraar na lewe van toewyding gegroet
Sy kinders onthou hom vir sy liefde, vriendelikheid, omgee, en bowenal, sy erns met sy diens vir die Here.
VANDERBIJLPARK. – Ds. Kobie van der Walt se lewe van diensbaarheid het verlede maand geëindig, maar talle mense gaan dié uitsonderlike man altyd onthou vir die positiewe indrukke wat hy in baie harte en lewens agterlaat.
Ds. Kobie, wat sedert 1978 tot met sy aftrede in 2007 leraar van die Gereformeerde Kerk Vanderbijlpark-Suid was, is in Desember 2023 met ’n seldsame vorm van leukemie gediagnoseer. Ten spyte van behandeling het dit teen Januarie vanjaar na akute leukemie gevorder. Hy is die oggend van 9 April in Mediclinic Vereeniging oorlede.
Ds. Kobie is op 17 Maart 1942 in Edenburg in die Vrystaat gebore. Na skool is hy lugmaggimnasium toe, en het daarna in Potchefstroom gaan studeer, waar hy sy vrou, Annette, ontmoet het. Sy is reeds in 2003 oorlede.
Volgens een van hul seuns, Theo, wou ds. Kobie aanvanklik ‘n ingenieur word, maar het tydens sy lugmagdae geroepe gevoel om predikant te word.
Nadat hy in dorpe soos Barberton, Komatipoort, Kathu en Sishen bedien het, het die Van der Walt-egpaar in 1978 na Vanderbijlpark verhuis.
Naas Woordbediening aan sy gemeentes was hy ook nou betrokke by inisiatiewe om die vrou in die amp van diaken te bevestig. Hy het ook verskeie interkerklike bedrywighede help dryf, onder andere in Sebokeng. Deur die jare het hy in verskeie skoolrade gedien en was die kapelaan van ‘n plaaslike Voortrekkertak. Ds. Kobie het in 2023 na die Palms-aftreeoord verhuis en sedert Januarie vanjaar in die versorgingseenheid gewoon.
“Hy was iemand wat sy medemens se behoeftes bo sy eie gestel het. Hy was ruimharitg, onbaatsugtig en nederig, altyd geduldig en het respek vir elke mens gewys, ongeag die persoon se stand of status. Hy het nie gehuiwer om die waarheid aan gesaghebbendes te stel nie, maar kon dit altyd sensitief en op ‘n logiese wyse doen,” sê Theo.
“Ons as sy kinders sal hom onthou vir sy liefde, vriendelikheid, omgee, en bowenal, sy erns met sy diens vir die Here.”
In sy universiteitsjare het hy uitgeblink in rugby en was dwarsdeur sy lewe lief vir sport en buitelugaktiwiteite soos swem, gholf, hengel, stap en jag. Buiten sy liefde vir lees en die natuur, het hy dit ook geniet om saam met familie en vriende om ‘n braaivleisvuur te kuier.
Ds. Kobie word oorleef deur vier seuns, Cobus, Wallie, Herman en Theo, drie skoondogters en vier kleinkinders. Sy troosdiens is op 17 April by die Gereformeerde kerk Trinitas in Vanderbijlpark gehou.

Wyle ds. Kobie van der Walt.

