News

Skool se geliefde ‘omgee-tannie’ sterf ‘n week na aftrede

Letsie het tien jaar as verslaggewer by Ster en Vaalweekblad gewerk voordat sy in 1994 as administratiewe personeellid by die Hoërskool Driehoek aangesluit het.

VANDERBIJLPARK. – Einde April het personeel en leerlinge van die Hoërskool Driehoek met ‘n openbare groetseremonie afskeid geneem van mev. Letsie Tukker, toe sy na 30 jaar as administratiewe personeellid afgetree het. Verlede week, skaars agt dae later, het hulle die skoknuus ontvang dat dié geliefde “kantoortannie” onverwags gesterf het.

Hoewel Letsie ‘n harttoestand gehad het, was haar dood op 8 Mei onverwags. Sy het die middag siek geword en ‘n hartstilstand gehad, waarna sy geresussiteer is. Sy het egter later die aand in Mediclinic Emfuleni beswyk.
Die skool het na haar afsterwe dié boodskap op hul amptelike Facebook-groep geplaas: “Dit is moeilik om in woorde te sit wat tannie Letsie vir ons beteken het. Sy was nie net iemand in ons lewe nie, maar deel van ons warm Hoekie-gemeenskap. Ons gaan haar onskuldige glimlag, pittige sin vir humor en merkwaardige taalkunde mis.”

Letsie het tien jaar as verslaggewer by Ster en Vaalweekblad gewerk voordat sy op 18 April 1994 as administratiewe personeellid by die Hoërskool Driehoek aangesluit het. Huidige en oud-leerlinge sowel as personeellede van die afgelope dertig jaar het haar leer ken as ‘n liefdevolle omgeemens wat altyd gereed was om te help.
Mev. Malitha Fivaz, wat 30 jaar saam met Letsie in die skoolkantoor gewerk het, sê sy was ‘n rustige mens met ‘n genotvolle humorsin en bekend vir haar uitstekende taalgebruik.

“Sy het ‘n sagte plek vir kinders gehad, veral dié wat swaargekry het, en het op ‘n diskrete manier minderbevoorregte leerlinge by die skool geïntifiseer vir wie sy dan pouses eetgoed uitgedeel het,” sê Melitha.
Letsie se omgee het egter nie by mense gestop nie. Sy was ook ‘n toegewyde diereliefhebber wat graag skelmpies kos vir katte op die skoolterrein gegee het.

Oudkollegas by Vaalweekblad onthou Letsie as ‘n sprankelende, sagmoedige mens wat selfs in die veeleisendste tye in die nuuskantoor nooit haar stem verhef het nie. Met haar spitsvondige sêgoed en rustige aanslag het sy vele potensieel plofbare situasies, wat gereeld deel van ‘n joernalis se werksdag is, ontlont.
Haar gedenkdiens word Maandag, 19 Mei om 11:00 by die AGS Dinamika Familiegemeente in Piet Cronjéstraat 4, Vanderbijlpark gehou. Sy word buiten haar man, Anthony, ook deur ‘n volwasse seun oorleef.

 

 

LETSIE TUKKER AFSKEID – 25 April 2025

(Die skryfstuk hier onder is saamgestel deur ‘n personeellid van Hoërskool Diehoek, mev. Karen de Villiers, met Letsie se aftrede, kort voor haar dood. Dit is pragtige herinneringe oor wie Letsie was.)

Hoe spreek mens Oubaas se gevleuelde woorde oor iemand wat nie met die spreekwoordelike goue lepel in die mond gebore is nie, maar met ‘n goue pen in die hand? lemand wat so ‘n ongelooflike manier het om met woorde te kan toor? lemand wat so ‘n fyn dog flymskerp sin vir humor het?

DIT is Letsie Tukker, die kantoortannie wat, al dink sy sy lyk baie kwaai, vir my nog steeds soos ‘n Valentynsdag-teddie lyk! Die Tannie wat Fotodag met ‘n passie haat, want “almal weet mos hoe ons lyk”. Letsie is vele beroepe vasgevat in een mens:

Eerstens: TAALKENNER. Die go-to-person as daar ‘n brief geproeflees moet word, of as iemand se afskeidsboodskap geskryf moet word (ek wens ek kon haar vra om haar eie te skryf!) of as ons ‘n pittige toespraak soek vir Baasdag. En vir dié van julle wat nie weet nie, sy is ‘n outeur ook. Julle kan gerus haar boekie “Vellies en Foefies in ‘n Skoolkantoor” lees. Ure se leesgenot gewaarborg …

Tweedens is sy ‘n kreatiewe GESKENK-GENIE. Almal kan sommer dadelik Letsie se unieke manier van geskenke opmaak by ‘n baba-tee of kombuistee uitken.

Dan het sy nog musiektalent ook, want derdens is sy boonop ‘n bobaas KOORDIRIGENT. Almal hoor gedurig die afkondiging van: “Tannie Letsie se Koorkinders moet asb kantoor toe kom” en dan gaan oefen hulle skelmpies daar in een van die lokale in die admin­gebou. Die empatie, Letsie, waarmee jy daardie kinders hanteer het, sal my vir altyd bybly.

Vierdens is Letsie ook ‘n VEEARTS uit die boonste rakke. lemand wat altyd oe-en-aaaah oor mense se troeteldiere as hulle by die kantoor aanmeld of ‘n watertjie sal uitsit vir ‘n rondloper-diertjie. Sy het selfs ‘n beter verhouding gehad met ‘n vorige hoof se hond as hyself …

Dan is sy nog VERPLEEGSTER ook. Die Tannie wat altyd gevra word vir ‘n naarpilletjie (wie het geweet ‘n pilletjie kan naar wees?) of ‘n pleistertjie. Die ene wat altyd inloer by die siele wat in die siekekamer lê. Sy is goed met self-diagnose ook, want volgens Malitha sê sy altyd sy is “murtu” as gevolg van haar kwale en skete.

Verder is sy ook ‘n MODEKENNER deurdat sy haar eie “klerewinkel” behartig het. Sy het die vermoë om ‘n kind een kyk te gee en dan die regte grootte rok of langbroek uit die klerekas te gaan uitpluk.

En dan het sy nog tyd ook vir haar eintlike werk as ADMINISTRATIEWE ASSISTENT. Sy is gewoonlik die hoofde se private sekretaresse (en poetsbakker). Die een wat die oproepe uitsif sodat net die nodige na die Hoof deurgaan.

En om alles te kroon is Letsie baie van ons se VRIENDIN, MENTOR, KLANKBORD en SIELKUNDIGE …

Net so bietjie oor Letsie se werksgeskiedenis: Sy het begin werk (waar almal destyds begin werk het), by die bank SA Perm. Daarna was sy vir 10 jaar betrokke by Vaalweekblad as ‘n verslaggewer (vandaar die taal-fundie). En toe het sy haar loopbaan by HS Driehoek op 18 April 1994 begin as LABORATORIUM­ASSISTENT. Daar is blykbaar een of ander gat in een van die tafels in my klas se stoor wat Letsie se handewerk was …

Letsie, na 31 jaar se getroue diens by HS Driehoek, wil ons jou ‘n wonderlike aftrede toewens. Hopelik stap jy hier uit met ‘n deel van ons in jou hart, want jy vul beslis ‘n groot deel van ons s’n. Geniet die aftrede saam met Anthony en Quintus. Ons hoop dat jy gereeld by ons sal kom inloer.

Weet dat ons vir jou BAIE lief is…

Wyle Letsie Tukker.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button