Drie buurvroue vier verjaarsdae in triplikaat!
Daar is elke jaar op 18 Mei rede vir 'n groot makietie wanneer dié buurvroue toevallig saam verjaar!
VEREENIGING. – Drie buurvroue van Arconpark het rede om elke jaar ‘n driedubbele viering van hul verjaarsdae te maak: Aldrie verjaar toevallig op 18 Mei.
Mev. Karin Holtzkamp en haar man Nico het in 1989 in hul rustige straat in Arconpark ingetrek. In 2005 het buurvrou Hester Lucas en haar man aan die linkerkant ingetrek, en in 2015 het hulle vir buurvrou Rosina aan die regterkant verwelkom.
“Ons kan nie presies onthou hoe ons agtergekom het dat ons op dieselfde datum verjaar nie, maar soos ek myself ken, het ek seker gou gevra wanneer elkeen verjaar sodat ek dit in my dagboek kon aanteken,” sê Karin. Sy is gebore op 18 Mei 1962, Hester in 1963 en Rosina in 1980.
“Toe Hester 50 geword het, het ons saam ons verjaardag gevier met die tema “Irish”, en het lekker saam gekuier. Ons twee het elkeen net een dogter en het saam gesien hoe hulle voor ons oë grootword. Ons drie buurvroue trap nie mekaar se drumpels deur nie maar ons is altyd daar vir mekaar en het al lekker weerskante oor die muur gestaan en kuier. As ons mekaar sien, sal ons altyd tyd maak om te hoor hoe dit gaan. As een van ons met verlof gaan, dan is die ander daar om huis op te pas, honde kos te gee en tuin nat te lei. Ons het selfs al ingespring om te help tydens ‘n mediese nood,” sê Karin, wat 30 jaar in die onderwys was.
“Ons het nog nooit moeilikheid met mekaar gehad nie en leef in vrede saam. Ons kon nie vra vir beter bure aan weerskante van ons nie,” sê sy.

