Fonnies en hul nuwe hoof stap al lank saam
Primêre Skool Fonteine in Sasolburg het vanaf 1 Julie 'n nuwe skoolhoof. Vaalweekblad het gaan kennis maak... Lees meer
SASOLBURG – Piet Groenewald is met die ingang van 1 Julie die nuwe hoof van Primêre Skool Fonteine. Nie dat hy enigsins vreemd is by dié skool nie. Hy is al 18 jaar deel van die wel en weë van Fonteine.
Piet is destyds in Kaapstad gebore en beskou homself steeds as ‘n WP-man. Sy grootword jare bring hy deur in Daniëlskuil in die Noord-Kaap en later in Swartruggens.
Na skool gaan swot hy onderwys by die destydse Potchefstroomse Onderwyskollege alvorens hy in 1992 sy een jaar verpligte diensplig ook in Potchefstroom voltooi het.
Sy eerste jare as onderwyser neem hom na verskeie plekke van Hoërskool Grenswag in Rustenburg, tot by Groblersdal en Johannesburg. Tussen 1994 en 1997 gee hy wiskunde aan die Laerskool Vaalrivier buite Vanderbijlpark voordat hy by AJ Jacobs in Sasolburg aansluit.
Tien jaar later is hy aangestel as adjunkhoof by Fonnies. “Ek het al die jare gesorg dat ek wiskunde gee. Ek geniet dit om met syfers te werk. Sal dit nooit waag om iets soos kuns aan te bied nie. Op skool het ek vreeslik gesukkel met houtwerk,” lag hy.
Alhoewel hy nie goed is om met sy hande te werk nie, speel hy so nou en dan gholf en geniet ‘n braai en om te kuier met ‘n koue ene in die hand. Deur sy skoolloopbaan as leerder en onderwyser het sport altyd ‘n positiewe rol gespeel.
“Ek het op skool atletiek gedoen en tennis en rugby gespeel. Dit was ons manier van besig bly lank voordat daar slimfone en die internet was.” Later jare het hy ook diens gedoen as rugby skeidsregter en afrigter.
Sy vrou hou skool by die Laerskool Hendrik van der Bijl in Vanderbijlpark en die egpaar se twee kinders, ’n seun en dogter, is al volwassenes.
Dis duidelik dat Fonnies met al die skool se personeel en leerders hom na aan die hart lê. “Ek en Boland (die hoof wat einde Junie uittree) het vir jare saamgewerk. Ek gaan net voortbou op was hy reeds hier gevestig het.”
