VANDERBIJLPARK – ‘n Argument oor wedrenwinste het glo tot die wreedaardige moord op die 73-jarige Jannie Bornman gelei.
Afrikan Betting Clan (ABC) het op sy webtuiste vertel dat die man met wie Bornman in ‘n argument betrokke was, ‘n jarelange werkernemer van hom was.
Dit het egter nie die man gekeer om Bornman glo met ‘n graaf dood te slaan nie. Hy is reeds in hegtenis geneem.
Die aanval het Saterdag (4 April) by die Vaal Renbaan gebeur. Bornman se liggaam is in sy wooneenheid op die Vaal Renbaan deur ‘n vriend gevind.
Polisie-woordvoerer sersant Josephine Rani het bevestig dat Bornman verskeie beserings aan sy bolyf gehad het.
Sy hande en voete was met koperdraad vasgebind, en daar was ook ‘n elektriese kabeldraad om sy nek.
“Dit was ‘n groot skok vir almal in plaaslike wedrenkringe. Oom Jannie was ‘n dierbare mens wat altyd eerste was om mede-afrigters geluk te wens as hul perde gewen het. Ons is baie hartseer oor sy dood,” sê Ingrid Webber van Vereeniging, wat reeds jarelank by perdewedrenne en afrigting betrokke is.
“Ons het juis verlede Dinsdag hier by die Vaal teen hom meegeding. Ons het gespot en gesê dat as ons moet verloor, hoop ons dit is dan teen oom Jannie. En toe wen sy perd,” vertel Webber.
Dié wengeld het vermoedelik tot die argument en sy dood gelei.

4Racing het op sy webblad vertel dat Jannie lewenslank met perde en perde-afrigting te doen was. Hy het reeds as ‘n tiener saam met sy pa op ‘n plaas in Postmasburg perde begin afrig.
Hy het in 1997 sy eie lisensie bekom, en in Bloemfontein sy amptelike loopbaan as perde-afrigter begin.
In 2005 het hy na Kimbeley verhuis waar hy sukses in die Noord-Kaap behaal het.
In 202 het hy na die Vaal verhuis. Die pandemie het egter daartoe bygedra dat sy aantal perde verminder het, maar sy liefde vir die sport het steeds gegroei.
4Racing sê Bornman was steeds optimisties oor die toekoms en was ‘n gerespekteerde en geliefde lid van die Vaal Renbaan se afrigters, wat gemis sal word.
“Dit is hartseer om iemand in sulke tragiese omstandighede aan die dood af te staan, maar ons vertrou die regsproses,” sê 4Racing.
* 4Racing is ‘n perdewedren-operateur in Suid-Afrika wat gestig is om die bedryf te herleef en te transformeer ná die finansiële probleme van Phumelela Gaming and Leisure.
Dit funksioneer as ‘n wedren-owerheid en mediamaatskappy wat verskeie prominente renbane sowel as die digitale platforms wat deur wedders en belanghebbendes in die bedryf gebruik word, bestuur.
Die maatskappy bestuur drie primêre renbane in Suid-Afrika:
Vaal, Turffontein en Fairview in die Oos-Kaap.
