Local newsNews

ʼn Skrywer van formaat het ons verlaat

Haar woordfonteintjie het nou finaal opgedroog, maar Naomi Maree se verhale leef voort. Dankie vir elke storie.

VANDERBIJLPARK- Naomi Maree (86), skrywer van vele romans, waaronder Ou Kaapse verhale, kortverhale en radioverhale is 2 Julie oorlede.

Haar gesondheid het die afgelope maande agteruitgegaan. Sy het by die huis gesterf. Naomi was by uitstek ʼn woordkunstenaar. Op skool het sy dit oorweeg om joernalis te word, maar het uiteindelik kreatiewe skryfwerk verkies.

 Van jongs af het die verhale uit haar ryk verbeelding gevloei. Sy het net geweet sy moes skryf en in 1968 is haar eerste kortverhaal gepubliseer. Daarna het romans, baie kortverhale, artikels, vervolgverhale en radiodramas gevolg.

Haar boeke het die leser weggevoer na ander eras in Suid-Afrika se kleurryke geskiedenis, van die Ou Kaapse verhale, deur die Groot Trek tot by die Tweede Vryheidsoorlog.

In 1995 het sy gereeld rubrieke vir Vaalweekblad geskryf. Om te skryf was vir haar soos om asem te haal. Natuurlik en gemaklik. Alhoewel sy altyd gesê het vir haar is haar geloof en familie belangriker as skryf.

Dit was vir haar baie erg toe sy na ʼn ligte beroerte vir ʼn tydlank nie kon skryf nie. “Die woorde was weg. Dit was asof iemand ingebreek het en my woorde gesteel het”, het Naomi in ʼn onderhoud met Vaalweekblad in 2020 vertel. Die skrywer kon nie meer onthou nie. Kon nie meer skryf nie.

Sy het in Oktober 2019 haar 80ste verjaarsdag gevier.  Haar verjaarsdagwens was om weer ʼn boek te skryf en sy het. In 2020 is Genoeg is genoeg gepubliseer, wat vinnig opgevolg is met onder andere Juweel van die Kaap en Engel uit die nag.

Haar woordfonteintjie het weer gevloei en sy was gelukkig. Ongelukkig het demensie sy nare kloue ingeslaan en die afgelope twee jaar het die woorde weer vasgesteek al het die karakters in haar kop bly leef.

Nou is haar tikmasjien vir ewig stil, maar sy laat ʼn skatkis van boeke agter wat altyd deel van Afrikaans se ryke literatuur erfenis sal bly.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button