News

Suid-Afrikaanse paspoort 86ste in wêreld

Volgens die jongste Passport Reports-ranglys kan Suid-Afrikaanse paspoorthouers na 59 lande reis sonder ’n visum.

VANDERBIJLPARK – ‘n Suid-Afrikaanse paspoort is tans die 86ste sterkste ter wêreld, met toegang tot 108 bestemmings sonder dat Suid-Afrikaners vooraf ’n gewone visum hoef aan te vra.

Volgens die jongste Passport Reports-ranglys kan Suid-Afrikaanse paspoorthouers na 59 lande reis sonder ’n visum. Nog 42 bestemmings bied visums by aankoms of ander vereenvoudigde toegangsreëlings, terwyl sewe bestemmings slegs ’n Elektroniese Reismagtiging vereis.

Vir 90 van die 199 bestemmings wat in die verslag gemeet word, moet Suid-Afrikaners vooraf ’n visum kry.

Die 108 bestemmings wat makliker bereikbaar is, gee Suid-Afrika ’n mobiliteitstelling van 108. Dit beteken dat Suid-Afrikaners na sowat 54,5% van die bestemmings in die ranglys kan reis sonder om vooraf ’n gewone visum te bekom.

Suid-Afrika beklee die derde plek in Afrika, uit 54 lande. Die land is ook derde onder die 54 lidlande van die Afrika-unie.

Die ranglys kyk egter net na hoe maklik Suid-Afrikaanse paspoorthouers ander lande kan besoek. Dit is nie dieselfde as die reëls vir buitelanders wat Suid-Afrika wil besoek nie.

Op dié gebied is Suid-Afrika 92ste uit 199 lande op Passport Reports se gasvryheidsranglys.

Die verslag wys ook daarop dat visumvrye toegang nie altyd beteken dat ’n reisiger bloot met ’n paspoort op ’n vliegtuig kan klim nie. Sommige lande vereis bykomende registrasie of aankomskaarte, terwyl ander ’n maksimum verblyftydperk voorskryf.

Die Seychelle vereis byvoorbeeld toeristeregistrasie, terwyl Ivoorkus voorafregistrasie vereis. Reisigers na Maleisië, Singapoer en Thailand moet ook aankomskaarte voltooi.

Die ranglys word deur Passport Reports saamgestel, wat paspoortinligting vir 199 lande publiseer.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button