Local newsNewsNewsSportSport

Daar was grenshoue en baie trane

Die SPL krieketseisoen het uitstekende krieket gelewer en die o11's het hul harte uitgespeel. Die finaal was 'n krieketfees.

VANDERBIJLPARK – Die Sedibeng Premier Liga (SPL) se o.11 finaal was ʼn naelbytstryd van begin tot end. Die Ravens en die Strikers het mekaar op Hoërskool Transvalia se krieketveld die stryd aangesê.

Langs die veld het albei spanne se ondersteuners bankvas gesit en luidkeels die spelers aangemoedig. Die Strikers het eerste gekolf en 105/8 in hul 20 boulbeurte geslaan.

Die Strikers juig na ‘n goeie vangskoot. Foto: Gerda Bruinette

Spankaptein Mian Loubser het geskitter met die kolf. Na ʼn foutbal het Mian skouers oopgemaak en ʼn reuse ses geslaan. Hy was ʼn doring in die Ravens se boulaanval totdat Francois Spies tot die aanval oorgegaan het en Mian met ʼn stadige bal geklop het. Mian het ‘n skitterende 48 lopies van 46 balle aangeteken.

In hul kolfbeurt het die Ravens hul man gestaan, al het die paaltjies gereeld geval. Die spanning het hoog geloop. Na 18 boulbeurte het die Ravens 12 lopies benodig met 12 balle oor. Die wedstryd kon enige kant toe gaan, veral toe daar nog ʼn paaltjie platgetrek is.

Die Strikers se paaltjiewagter Mian Loubser staan gereed om die bal te keer wat reguit op die penne afpyl. Foto: Gerda Bruinette

Uiteindelik is die boulbeurt met ʼn grenshou afgesluit en het die Ravens met twee paaltjies gewen. Vir van die Strikers was die spanning en skielike verloor net te veel en die trane het gevloei.

Die Ravens se vreugdebeker het oorgeloop. Hulle het verlede jaar ook die beker huis toe gevat.

Wanneer jy alles ingesit het en besef dis verby… Foto: Gerda Bruinette

Francois Spies van die Ravens is as speler van die wedstryd aangewys. Cayden Schmidt was die beste o11 bouler vir 2026 en Mian het met die titel as beste kolwer o11’s weggestap.

Paaltjiewagter en kolwer was vir ‘n oomblik nie seker waar die rooi bal heen is nie. Foto: Gerda Bruinette

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button