News

Midvaal-koor fluit-fluit deur plaasavontuur

Die musiekvideo het binne drie dae ná sy vrystelling reeds byna 4 000 kyke gelok.

MEYERTON. – Met perde, plaaswerk en ’n jolige watergeveg het Laerskool Midvaal se seniorkoor hul weergawe van Whistle While You Work in ’n musiekvideo laat lewe.

Die video, wat op Vrydag 13 November vrygestel is, is by Riverview Stables in Henley-on-Klip verfilm. Altesaam 57 koorlede van graad 4 tot 7 het deelgeneem.

Volgens die koor se afrigters, Hardi Farrel en Jeanmari Ferreira, het die liedjie vanjaar groot byval by die kinders gevind. Die uitdaging is om musiek te kies wat jonger én ouer laerskoolleerders opgewonde maak.

Die plaasomgewing sluit aan by die gedagte dat ’n mens selfs harde werk met vreugde kan aanpak – of, soos die afrigters dit met verwysing na Langenhoven stel, jou swaarkry met lekkerkry moet klaarkry.

Tonele uit die musiekvideo. Skermskoot: YouTube

Ferreira het die idee vir die perdeplaas as agtergrond gekry. Farrel se oudste dogter se betrokkenheid by Riverview Stables het die deur oopgemaak, en Marlien van Staden het die terrein gratis beskikbaar gestel.

Ferreira het die regie behartig en Farrel was verantwoordelik vir die koorverwerking. Eternalife Creations het die video verfilm.

Hoewel die plaasverfilming net twee middae geduur het, het weke se beplanning dit voorafgegaan. ’n Gedetailleerde storiebord en verfilmingskedule het gehelp om die tonele tussen ongeveer 15:00 en sononder vas te vang.

Lede van Laerskool Midvaal se koor dans langs die Kliprivier in die musiekvideo. Foto: Verskaf

Een hoogtepunt was ’n dans langs die Kliprivier, waar die kinders in vyf sirkels beweeg het terwyl ’n hommeltuig hulle van bo af verfilm het.

Die watergeveg is doelbewus vir heel laaste gehou. Volgens die afrigters sou dit moeilik wees om die opgewonde kinders daarna weer tot orde te roep.

Ouers en onderwysers het gehelp om die groepe tussen tonele besig te hou. Die afrigters sê dié ondersteuning, asook die skoolhoof s’n, het die projek moontlik gemaak.

Intussen wag ’n tweede musiekvideo in die vlerke. Die koor se weergawe van Awesome God is op 15 Oktober in Heidelberg se Klipkerk opgeneem en word vroeg in Desember verwag. Elf leerders kry daarin ’n kans om sologedeeltes te sing.

Vir die afrigters gaan die projekte ook oor wat die kinders saamneem: dissipline, deursettingsvermoë en die selfvertroue om voor ander op te tree.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button