Tannie Evita sorg dat oom Hasie veilig speel!
Suid-Afrika se bekendste tannie het ’n nuwe produk op die rak. Dié keer gaan dit nie oor politiek of beskuit nie, maar oor veilige seks en ’n ernstige boodskap wat steeds geld.
Tannie Evita Bezuidenhout het oor die jare al menige politikus die leviete voorgelees, maar dié keer het Suid-Afrika se bekendste tannie ’n heel ander boodskap: Speel veilig!
En soos ’n mens van Tannie Evita kan verwag, doen sy dit met ’n goeie skeut humor.

Die bekende karakter van die satirikus Pieter-Dirk Uys kry nou haar eie kondoom, wat op 1 Desember, Wêreldvigsdag, bekendgestel word.
Die nuwe produk vorm deel van die 30ste bestaansjaarvieringe van Evita se Perron in Darling, waar Uys in 1996 ’n ou spoorwegstasie in ’n teater- en toeristebestemming omskep het.
Die kondoom word in ’n klein, sierlike verpakking met Tannie Evita se afbeelding aangebied. Daarop verskyn bekende slagspreuke soos “It’s not on, it’s not in”, “Veilig Speel” en natuurlik die ondeunde “Hiert, oom Hasie!”
Laasgenoemde verwys na Tannie Evita se bekende wederhelf, oom Hasie Bezuidenhout.
Hoewel die verpakking beslis ’n glimlag kan ontlok, lê daar ’n ernstige boodskap agter die nuwe produk.
Uys het reeds in 2000 met sy gratis bewusmakingsprogram, For Facts Sake!, begin om skole, gevangenisse en gemeenskappe regoor Suid-Afrika oor MIV en vigs in te lig.
Met humor en reguit gesprekke het hy onderwerpe aangepak waaroor baie mense destyds ongemaklik was om te praat.
Volgens die bekendstellingsverklaring het sy programme uiteindelik meer as 1,5 miljoen skoolkinders bereik.
In ’n tyd toe wanopvattings en die stigma rondom MIV en vigs algemeen was, het Uys humor gebruik om mense aan te moedig om openlik oor die siekte, voorkoming en persoonlike verantwoordelikheid te praat.
Die nuwe kondoom is ook ’n huldeblyk aan dié werk en ’n herinnering dat MIV-voorkoming steeds belangrik is.
Hoewel behandeling en voorkoming sedertdien aansienlik verbeter het, bly die gebruik van kondome, gereelde MIV-toetsing en verantwoordelike seksuele gedrag belangrik.
Die produk sal by Evita se Perron in Darling en aanlyn beskikbaar wees. Daar word ook spesifiek op hotelle, gastehuise en ander verblyfondernemings gemik.
Volgens die bekendstellingsverklaring bied die produk ’n Suid-Afrikaanse alternatief vir die gewone kondome wat soms in gastekamers beskikbaar gestel word.
Fritz van Ryneveld van Darling Sweet beskryf die produk as iets wat ’n bietjie stout, maar terselfdertyd nuttig is, met ’n ernstige verhaal daaragter.
“It’s cheeky and it’s useful, but it has a serious story behind it,” sê hy.
Tannie Evita voeg by: “And it might just start a conversation, because some messages are too important to forget.”
En ná 30 jaar van beskuit, koekies, toffies en ander lekkernye by Evita se Perron, is daar nou ook iets vir diegene wat eerder veilig as jammer wil wees.