Wat nou Emfuleni? Eerste raadsvergadering eindig in chaos
Die Emfuleni Plaaslike Munisipale Raad is steeds sonder burgemeester, hoofsweep en speaker nadat die raadsvergadering ontwrig is.
VEREENIGING – Die eerste vergadering van die Emfuleni Plaaslike Regering het in chaos geëindig. Alles het goed begin. Al die verkose wyksraadslede en proporsionele raadslede was teenwoordig. Lede van die publiek en die media het ook bankvas gesit. Die dag het feestelik begin toe die DA onder leiding van Kingsol Chabalala die saal ingedans en gesing het.

Die enigste suur kol was die EFF wat gaan sit het toe die Afrikaans en Engelse gedeeltes van die landslied gesing is.
Die nuwe raadslede is ingesweer. Die moeilikheid het begin met die aanvaarding van die agenda kort daarna. Een van die SAKP-lede het aangevra vir ʼn 15 minute onderbreking omdat hulle verdere besprekings wil hou. Dis teengestaan deur die DA.
Kort voor lank het ʼn debat uitgebreek tussen die pas ingesweerde raadslede of so ʼn onderbreking toelaatbaar is al dan nie. Die enigste uitweg was om daaroor te stem. Raadslede van onder andere die ANC, ActionSA, SAKP, MK en die EFF was nie daarvoor te vinde nie. Hulle het opgevlieg en begin skreeu en dans.
Daar was geen orde meer nie. Die munisipale bestuurder Mnr. April Ntuli het die vergadering gelei en sy tafel is gestorm. Hy het geen beheer oor die vergadering gehad nie. Intussen het van die oproerige raadslede tafels omgegooi en tafeldoeke afgeruk.
Die oproerige raadslede het voor die uitgang saamgedrom, terwyl DA-lede in een hoek van die saal begin sing en dans het. Dit het ʼn tydjie geneem alvorens die polisie laat weet het dat dit veilig is om die saal te verlaat.

Raadslid Cobus Cato van die VF Plus sê die DA en die VF Plus het saam met ʼn paar ander kleiner partye in koalisie gegaan. Hulle gaan saam ʼn brief stuur aan die Hoof Uitvoerende Komittee van die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake waar daar gevra word vir dringende ingryping.
Volgens wet moet die burgemeester, speaker en hoofsweep van ʼn munisipale raad binne ʼn sekere tydperk verkies word. Die volgende vergadering moet voor of op Vrydag, 27 November geskied.
