News

Die aarde bewe iewers elke 63 sekondes!

Van die ongeveer 500 000 aardbewings wat jaarliks waargeneem kan word, is sowat 100 000 sterk genoeg om deur mense gevoel te word. Ongeveer 100 veroorsaak skade.

As jy gedink het die aarde is die enigste ding wat deesdae nog stewig onder jou voete staan, dink weer. Ons planeet bewe gemiddeld omtrent elke minuut, en dit het niks met jou bankbalans, die petrolprys of jou skoonma se kuierplanne te doen nie.

Volgens die Amerikaanse Geologiese Opname (USGS) vind daar wêreldwyd na raming sowat 500 000 aardbewings per jaar plaas wat met seismiese instrumente waargeneem kan word.

Dit beteken die aarde skud gemiddeld 1 370 keer per dag, 57 keer per uur en een keer elke 63 sekondes.

Teen die tyd dat jy jou oggendkoffie klaar gedrink het, kon die aarde dus al tien of meer keer gebewe het. Gelukkig sonder dat jy jou beskuit uit jou hand laat val het.

Van die ongeveer 500 000 aardbewings wat jaarliks waargeneem kan word, is sowat 100 000 sterk genoeg om deur mense gevoel te word. Ongeveer 100 veroorsaak skade.

Anders gestel: Van elke 5 000 aardbewings wat waargeneem kan word, veroorsaak gemiddeld net een skade.

Die meeste aardbewings is dus so gering dat niemand eens daarvan bewus is nie.

Maar waar bewe die aarde die meeste?

Die Stille Oseaan se sogenaamde Ring van Vuur is die wêreld se groot aardbewing-brandpunt. Sowat 90% van alle aardbewings vind in dié gebied plaas.

Dit strek onder meer langs Japan, Indonesië, Nieu-Seeland en die westelike kusgebiede van Noord- en Suid-Amerika.

Afrika is relatief rustig in vergelyking met hierdie gebiede, hoewel aardbewings ook hier voorkom.

Selfs Suid-Afrika spring nie aardbewings vry nie. Sommige hou verband met natuurlike geologiese prosesse, terwyl ander deur mynboubedrywighede veroorsaak kan word.

En voordat jy wonder of die aarde dalk besig is om uitmekaar te val: Aardbewings is dikwels ‘n natuurlike gevolg van die beweging van die aardkors se tektoniese plate. Die meeste gebeur wanneer spanning langs breuke in die aardkors skielik vrygestel word.

Meer berigte oor aardbewings beteken ook nie noodwendig dat meer aardbewings plaasvind nie. Moderne meetinstrumente kan baie klein aardbewings opspoor wat vroeër ongesiens sou verbygaan.

So, die volgende keer wanneer iemand sê die aarde bewe onder sy voete, hoef jy nie dadelik bekommerd te raak nie.

Statisties gesproke is die kans goed dat die aarde inderdaad iewers besig is om te bewe.

Maak net seker dit is nie jou koffie wat mors nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button